Ice Cold Bodies en sakemanne span saam om droogtehulp te verlig
Gedurende Desember het Ice Cold Bodies met boere en sakemanne saamgespan om droogtehulp skenkings aan boere in die Noord Kaap in te samel.

Nege vragmotors met skenkings het op 20 Desember na Calvinia vertrek.
Wimpie Steenkamp (voorsitter: Calvinia Landbou Unie) het op 2 April gesê die skenking het alle verwagtinge oorskry. Die skenkings van voer, klere, kos en 40 000 liter diesel wat die Vrydagaand opdaag het, het vir die boere en hul gesinne soos Kersfees gevoel.
“Elke vragmotor met sy ligte het vir ons soos ‘n kersboom op wiele gelyk,” het Steenkamp gesê.
“Ons herinneringe aan daardie skenking is mooi, hoopvol, vreugdevol en ook teer. Hoe kan mense wat ons nie eers ken nie, vir ons so baie goed gee? Sien, om een of ander rede voel boere hulle is alleen. Behalwe dat ons afgesonder bly, is dit asof ons ‘n ingebore intuïsie het om al ons probleme alleen op te los. As dit droog is hanteer ons dit op ons eie, want iewers moet dit tog kom reën.
“Kyk, hulle sê ons boer in ‘n vreeslike dankbare wêreld, want ons veld kan vir jare geen reën kry nie, maar met die eerste bui is dit amper die volgende dag groen. Is dit nie maar hoe ons boere is nie? Charles Darwin se teorie was gebaseer op spesies wat aanpas by hul omgewing. Miskien het ons boere aangepas by hul veld. Ons glo mos die Here gaan môre reën stuur, of oormôre. Dalk volgende maand, het Steenkamp gesê.
Verlede jaar, in die sewende droogtejaar was die boere met hul rug teen die muur en moes hulle om hulp begin vra. “Dis die een ding wat ‘n boer nooit sommer doen nie, want is boere dan nie daar om te gee nie?
“Behalwe alles wat julle vir ons geskenk het, was die grootste geskenk die HOOP wat saam met elke vragmotor in ons dorp en harte ingery het. Want as jy op moedverloor se vlakte staan, het jy beslis nie hoop nie. Die noodhulptas was weer vol, maar vir die volgende paar dae sou niemand in hierdie Hantam weer kopseer hê nie. Ons het Kersfees ‘n koue enetjie in die yskas gehad, ons koskaste was vol. Die huis het geblink, want die stof is vir die eerste keer in ‘n hele ruk afgewas met skoonmaakmiddels. In die skuur was voer en iewers was ‘n drom met diesel. Ons viervoetige vriende se kosbakke en voerkrippe was vol. Daar was selfs regte geskenkpakkies onder die boom!
“God het voorsien. Elkeen van julle was ‘n engel wat Hy ‘n ander opdrag gegee het,” het ‘n dankbare Steenkamp voortgegaan.
Landbou Unie is baie uniek teenoor meeste ander landbou unies in die land. Die Unie bestaan uit nege landbouverenigings, 300 lede en ongeveer 100 ongeregistreerde boere. Calvinia area strek van die Ceres – Karoo tot teen Kenhardt. Die unie bestaan uit plase wat van winterreën, somerreën en oorgangsreën afhanklik is.
Om gereeld 400 boere van noodsaaklikhede te voorsien, is onmoontlik. Meeste van die land gaan gebuk onder erge droogte en om skenkings te verwag wat groot genoeg is vir 400 boere op gereelde basis, is fisies en logistiek ‘n onbegonne taak. Die geskenk wat elke boer ontvang moet van so ‘n aard wees dat dit die moeite- en laaste sent werd is om 500 km in een dag daarvoor af te lê.
Ons het nie woorde om ons dankbaarheid te beklemtoon nie. Dankie is net vyf letters, maar in hierdie vyf letters lê soms hierogliewe opgesluit.
D – Deur donker dieptes sal ek nie vrees nie, want Hy is by my. (Hy stuur Sy engele om ons te troos en hoop te gee).
A – Alles wat ons is, is net genade. Alles wat ons het is net geleen. (Alles wat ons kry is met God se seën).
N – Niks sal ons ontbreek nie. (Hy voorsien op Sy tyd).
K – Kom na my toe, almal wat moeg en oorlaai is. (By Hom sal ons siele rus).
I – In Hom is daar lig. (As die res van die wêreld vir ons nagdonker geword het).
E – Ek sal vir jou krag gee en jou help. (Wanneer ons knieë knak onder die las van die droogte sal hy ons optel en dra).
“Mag God julle seën, net soos julle ons geseën het. Mag ons eendag die voorreg hê om al die engele (wat ons deurgedra het) persoonlik te bedank. Groete uit die Hantam,” het Steenkamp afgesluit.



