Nigel SAVF voorsien steeds kospakkies ondanks inperking uitdagings
Nigel SAVF se diensbestuur het die nood van behoeftige gesinne gedurende die inperking raakgesien en hoewel hulle talle uitdagings in die gesig staar, bly dit 'n prioriteit om te sorg dat hul geregistreerde kliënte steeds van kospakkies voorsien word.

Volgens die voorsitter Chris Engelbrecht het hulle op 8 April kosaankope gedoen en is ongeveer 50 kospakkies die volgende dag uitgedeel.
“Weens die Covid-19 pandemie en gepaardgaande inperkingmaatreëls is die gebruiklike maandelikse byeenkoms (wat op 27 Maart sou plaasvind) afgelas.
Gevolglik kon ons nie Maart se volledige kospakkies oorhandig nie. Ons grootste uitdaging daarna was om dit so gou moontlik afgelewer te kry, aangesien vryheid van beweging ook ingeperk is,” het hy verduidelik.
Kliënte is toe telefonies gekontak en in kennis gestel dat kospakkies op verskillende plekke en tye in die dorp beskikbaar gestel sou word. Sodoende het hulle verseker dat daar nie ‘n groot groep mense op dieselfde tyd by ‘n verspreidingspunt bymekaar kom nie.
“Daar was egter ‘n paar kliënte wat ons nie telefonies kon bereik nie en ons hoop om hulle ook binnekort van kospakkies te kan voorsien,” het hy bygevoeg.
Nigel SAVF doen ‘n beroep om die gemeenskap om hulle veral gedurende die inperking finansieel te ondersteun, ten einde aflewering van die volgende kospakkie te verseker.
Kontant donasies word verwelkom en kan in die volgende bankrekening deponeer word: SAVF Absa Bank, Tjek rekeningnommer: 027 081 0012.



