Groot leemte na Heidelberg se nagtegaal finaal groet
Lorraine Deirdré 'Didi' Kok, ook bekend as Heidelberg Vereniging vir Bejaardes se eie Florence Nightingale, is op 5 Mei na 'n kort siekbed oorlede.

Didi het oor die afgelope 38 jaar diep spore in die harte van Heidelbergers getrap en huldeblyke stroom steeds in.
Menige Heidelbergers kan getuig van Didi se impak in hulle lewens, in enige fase vanaf kleuter, skoolkind, hospitaalpasiënt, jong egpaar tot bejaarde.
Sy het nie teruggestaan vir enige geleentheid nie en het, in haar eie woorde, elke oomblik van haar lewe gate uit geniet, en sodoende menige uitdagings aangepak, soos om die gewilde Oos-Kaapse Otter staptoer op 65-jarige ouderdom aan te durf.
“Dit is ‘n hartseer dag vir Suikerbosrand Aftree Oord en die gemeenskap van Heidelberg. In ‘n klein dorpie soos dié raak mense gou bekend, veral as jy as die plaaslike ‘Florence Nightingale’ bekendstaan,” het Marlene Walkden (maatskappe werker by Heidelberg Vereniging vir Bejaardes) gesê.
“Didi was ‘n besonderse mens wat Jesus se liedes-diens vergestalt het. Sy was ‘n voorbeeld van sout-en-lig vir gewees en ek weet die engele het haar met blydskap ontvang en verwelkom,” het Gerry Holtzhauzen in ‘n huldeblyk gesê.
Die familie het ‘n elektroniese gedenkboodskap deur Ds Bennie de Klerk aan vriende en familie beskikbaar gestel, maar volgens Villiers beplan hulle ‘n dankseggingsdiens vanuit die Klipkerk sodra die grendelgreep gelig word.



