Geen aankondiging nog oor Vlak 3-riglyne
President Cyril Ramaphosa vergader vanoggend (21 Mei) met die leiers van politieke partye wat in die parlement verteenwoordig word.

Dit volg presies ‘n week nadat die president die land toegespreek en aangekondig het dat die grootste deel van die land teen einde van Mei na Vlak 3 van die afsonderingstydperk beweeg.
Volgens die president se woordvoerder Khusela Diko, sal die nasionale reaksie op die Covid-19 pandemie en kwessies met betrekking tot die landwye afsondering tydens dié virtuele vergadering bespreek word.
“Die virtuele vergadering is die derde raadplegende vergadering wat die president met leiers van politieke partye sal hou,” het Diko gesê.
Sedert die begin van die Covid-19 pandemie, het die president ‘n reeks vergaderings en besprekings met leiers in verskillende sektore van die samelewing gehou, om te verseker dat die nasionale poging om die krisis te bekamp inklusief is en die steun van alle belanghebbende partye en rolspelers geniet.
Volgens David Makhura (premier van Gauteng), sal Gauteng as geheel na Vlak 3 beweeg, terwyl Alan Winde (premier van die Wes-Kaap) ook dié provinsie se gereedheid (ondanks die meer as 10 600 Covid-19 gevalle) aangedui het.
Tydens president Ramaphosa se toespraak verlede week, het hy gesê dat verdere aankondigings gedoen sal word oor verandering aan Vlak 4-riglyne, om handelsaktiwiteit in kleinhandel en e-handel uit te brei en om beperkings op oefening te verminder.
Daar is egter nog geen verdere aankondigings gemaak rakende enige ander verslapping van Vlak 4-riglyne nie en Suid-Afrikaners sit nou angstig en wag om te hoor wanneer daar na Vlak 3 beweeg gaan word en wat die nuwe riglyne sal behels.



