Plaaslike besighede sluit weens gevoelige hou van Covid-19 pandemie
Die Covid-19 pandemie kan, of was dalk reeds die doodsteek vir menige kleinsake ondernemings.
Die regering se wetgewende reaksie tot Covid-19 was ‘n ernstige skok vir die ekonomie en die gevaar is dat besighede wat hul deure tydelik moes sluit weens die landwye staat van inperking, dit dalk nou permanent moet doen.
Die Covid-19-pandemie plaas hewige druk op besighede se kontantvloei en saai verwoesting onder ondernemings wat nie noodsaaklike dienste aan die publiek lewer nie.
Ondanks president Cyril Ramaphosa se aankondiging op 17 Junie dat fliekteaters, haarsalonne, casino’s en restaurante tydens die ‘gevorderde vlak 3 van inperking’ weer kan oopmaak, is talle besigheidseienaars onseker of dit ekonomies haalbaar sal wees, veral as die ondersteuning nie die poging regverdig nie.
Te midde die styging in plaaslike Covid-19 gevalle, daling in huishoudelike inkomste, asook die streng protokol waaraan entiteite moet voldoen om oop te bly, is daar reeds ‘n gevoelige hou toegedien en hang daar nou ‘n wolk van ekonomiese onsekerheid oor kleinsakeondernemings. Sommige plaaslike aansit restauranteienaars het teenoor HERAUT erken dat dit op die langtermyn moontlik duurder sal wees om die deure oop te hou.
Topline DVD wat die afgelope nege jaar tot plaaslike inwoners se fliekgenot bygedra het, is een van die plaaslike besighede wat weens die ekonomiese impak van Covid-19, sy deure permanent moes sluit.
“Ek moes my besigheid tydens die grendelgreep sluit en het geen finansiële bystand van die regering ontvang, soos per hul onderneming nie. Die inperking het veroorsaak dat die dvd vervaardigingsmaatskappy in Suid-Afrika hul deure sluit. Gevolglik het Ster Kinekor (een van my verskaffers) ook hul dvd afdeling gesluit, wat beteken dat ek dvd’s ten duurste moet invoer en boonop lank vir aflewering daarvan moet wag. Dit is ‘n gegewe feit dat mense deesdae verkies om flieks van ander platforms soos Netflix en Showmax af te laai en die voortbestaan van dvd-winkels in die algemeen, hang in die weegskaal,” het Renet Vogel (eienaar) gesê.
Alles in ag genome is dit duidelik dat die coronavirus onsekerheid aanblaas en dat drastiese maatreëls in plek geplaas moet word om die sukkelende ekonomie te help red.



