Nog bejaardes van Heidelberg toets positief vir Covid-19
'n Totaal van ses inwoners van die Silwer Akker verswakte eenheid van Heidelberg Vereniging vir Bejaardes het positief vir die Covid-19 virus getoets.

HERAUT het verlede week (1 Julie) berig oor Elsie Kruger, ‘n bejaarde inwoner van Silwer Akker wat positief getoets het toe sy vir behandeing van longprobleme in die hospitaal opgeneem is. Volgens Heidelberg Vereniging vir Bejaardes se bestuur gaan dit onder omstandighede goed met Elsie, wat in die hospitaal aansterk.
Lede van die Departement van Gesondheid het die oord op 26 Junie besoek en na deeglike inspeksie hul goedkeuring uitgespreek met die wyse waarop die oord regulasies en protokol volg.
Jannie Kotze (bestuurder) het aan HERAUT bevestig dat die oord se bestuur as verdere voorkomingsmaatreëls die oord se geboue weer behoorlik ontsmet het.
“Elsie was in ‘n vierbed kamer en as onmiddelike maatreël is die ander drie inwoners onder kwarantyn geplaas, asook personeel wat direk met die vier in kontak was. Ons het bevestiging ontvang dat aldrie kamermaats positief vir Covid-19 getoets het. Een van die dames (in haar 80s) is verlede week oorlede, maar dit moet benadruk word dat sy reeds maande haar laaste stryd teen gevorderde kanker geveg het. Die bejaardes wat postief getoets het, bly in kwarantyn en het deurgaans telefoniese kontak met ons maatskaplike werker,” het Kotze bevestig.
Die betrokke inwoners se naasbestaandes is ook van die uitslae ingelig.
Van die Silwer Akker se inwoners, het ses inwoners teen 6 Julie positief getoets en drie van hulle is in die hospitaal vir behandeling.
“Almal is rustig en die personeel se toetsuitslae behoort ook eersdaags bekend gemaak word,” het Kotze bygevoeg.
Daar was op 30 Junie meer as 245 bevestigde gevalle van Covid-19 in die Lesedi-streek, wat Heidelberg insluit.
Inwoners word gemaan om aan die voorkomingsmaatreëls gehoor te gee. Dra ‘n masker, was jou hande gereeld, bly by die sosiale afstand en vermy groepe en lang uitstappies na inkopiesentrums.



