Du Plessis-egpaar vier goue bruilof
Min getroudes is so gelukkig om hul goue bruilof te vier, en dit gedurende die grendelgreep van 2020.

André (71) en Petro (69) du Plessis van Heidelberg het dié mylpaal op 11 Julie bereik, 50 jaar nadat hulle die knoop in 1970 deurgehaak het.
André en Petro het nie gras onder hul voete laat groei toe hulle mekaar destyds in Vanderbijlpark ontmoet het nie en nege maande later het hulle ewige trou aan mekaar beloof. Hul huwelik was geseënd en drie kinders is daaruit gebore.
Die Du Plessis egpaar wat hulle gedurende Junie 1999 in Heidelberg gevestig het, skryf hul suksesvolle verhaal toe aan liefde, toewyding aan mekaar sowel as God se Woord en wedersydse respek.
Hulle ontken nie dat ‘n huwelik sonder uitdagings of moeiteloos is nie en sê dit is juis die verskil in persoonlikhede wat soms twyfel binne ‘n huwelik wek. Die egpaar vergelyk hul huwelik met ‘n suksesvolle onderneming waar dryfkrag en deursettingsvermoë die grootste winsgrens bereik.
“‘n Huwelik verg baie werk, maar dit is 100% gee en 100% ontvang. Ons kyk verby mekaar se tekortkominge en fokus op dit wat belangrik is,” het André gesê en verklap dat aanraking (soos om gereeld hande vas te hou) hul huwelik bevorder. Hy glo ook dat ware mans die motordeur vir ‘n vrou oopmaak.
Die egpaar woon in Bergsig by hul dogter en sê hul vier kleinkinders en daaglikse bedrywighede hou hulle jonk. Weens die inperking kon die beplande makietie wat in normale omstandighde deur vriende en familie bygewoon sou word, nie plaasvind nie, maar dit het nie ‘n stokkie voor die Du Plessis-egpaar se planne gesteek nie en hulle het steeds ‘n feesmaal saam ‘n klein, intieme groep familielede geniet om hul groot dag te vier.



