Local newsNews

VF Plus ontevrede oor OPOD-hoof se aanstelling

Die VF Plus stem nie saam met die aanstelling van Dikeledi Ntlatseng as die nuwe uitvoerende direkteur van die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat (Opod) nie, weens onder meer ʼn nie-deursigtige en gebrekkige keuringsproses. 

Volgens Dr Pieter Groenewald (VF Plus-leier) is dit duidelik dat die parlementêre portefeuljekomitee wat ʼn aanbeveling oor die aanstelling moes doen, Ntlatseng nie behoorlik geëvalueer het nie.

“Ses kandidate vir die pos se aansoeke is afgekeur op grond van die feit dat hulle geen ondersoekende ondervinding het van polisieverwante sake nie. Tog is Ntlatseng aangestel sonder enige ondervinding in dié verband,” het Groenewald gesê.

Die VF Plus sê hy beskou die totale aanstellingsproses as gebrekkig en die party het voorgestel die portefeuljekomitee sy eie kriteria oor kandidate opstel en hulle moet ook in staat wees om onderhoude met potensiële kandidate te voer, ten einde ingeligte besluite te neem.

“Dit is daarom duidelik dat die aanstelling gestoomroller is met die ANC se meerderheid in die portefeuljekomitee omdat die minister nagelaat het om binne die voorgeskrewe tydsraamwerk iemand in die pos aan te stel,” aldus Groenewald.

Die pos moes ingevolge die wet binne ʼn jaar na die voorgeskrewe datum van 28 Februarie 2019 gevul gewees het. Die finale sperdatum het dus reeds meer as vier maande gelede verstryk. Die VF Plus het in die portefeuljekomitee gevra dat die minister ʼn omvattende verslag aan die komitee voorlê met redes vir sy versuim om die spertyd vir die aanstelling te eerbiedig.

Die komitee het die voorstel aanvaar. Daar is tans ook hangende hofsake oor die proses vir die aanstelling van die uitvoerende direkteur van Opod en die komitee het ook besluit dat die bestaande wet wat die uitvoerende direkteur aanstel, gewysig moet word om beter toesig van die portefeuljekomitee te verseker.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Heidelberg Nigel Heraut in Google News and Top Stories.

Magda Maritz

News editor and journalist for HERAUT newspaper. 'Read what you like and like what you read' is my motto.

Related Articles

Back to top button