Rina Rudman vier 95ste tydens inperking
Rina Rudman se verjaardagkoek spog op 12 September met 'n allemintige 95 kersies, maar weens vlak 2 inperkingsregulasies, is daar nie vanjaar 'n groot makietie om dié mylpaal te vier nie.

Rina is ‘n sterk, gesonde en onafhanklike vrou wat alleen in ‘n woonstel by Nigel Tuiste vir Bejaardes woon. Ouderdom is vir haar onbelangrik en sy beskou elke lewensdag as genade van bo. Sy is in 1925 op ‘n plaas tussen Kimberley en Hopetown gebore, waar sy tot standerd 6 ‘n plaasskool bygewoon het. Sy was die oudste van drie kinders.
Sy het later by Hoërskool Douglas matrikuleer en na skool het sy by die destydse Barclays Bank op die dorp gewerk, vanwaar sy na Port Elizabeth verhuis het. Rina het haar man Ivan in 1952 ontmoet toe hy by haar ouers loseer het en hulle is twee jaar later getroud.
Drie kinders is uit die huwelik gebore. Sy het haar beroep laat vaar om haar kinders te versorg en het haarself bedags met naaldwerk en lees besig gehou. Gedurende 1980 toe Rina maar 49 jaar oud was, is haar man skielik oorlede en moes sy noodgedwonge op haar eie voete staan, maar omdat Ivan ‘n praktiese mens was, het Rina deur die jare baie by hom geleer en sê dit het haar onbewustelik vir die alleenpad voorberei.
“Dit het my in staat gestel om onafhanklik met die lewe voort te gaan, terwyl my oudste kinders op universiteit en my jongste nog op skool was,” het sy tydens ‘n vorige besoek gesê.
Kort na haar 81ste verjaardag het Rina op versoek van haar seun Neville na Nigel verhuis, maar sy het gesê dit het haar jare geneem om die trauma daarvan te verwerk, aangesien sy vir 61 jaar diep spore in die gemeenskap van Port Elizabeth getrap en niemand in Nigel geken het nie.
Nadat sy vir ‘n paar jaar in ‘n huis in Visagie Park gewoon het, het sy haar intrek by Nigel Tuiste vir Bejaardes geneem. Sy geniet die rustigheid van die omgewing waarin sy woon, asook haar bure se geselskap en sien uit na haar seun en kleinkinders se gereelde besoeke.



