GALLERY: Frankryk in Greylingstad beleef
Renske van Achterberg en Dawie van Jaarsveld se planne om die jaar te reis was as gevolg van Covid-19 in die wiele gery.
Dit het hulle egter nie gekeer om een van hul gunsteling bestemmings huis toe te bring nie en so het hulle op 5 en 6 Desember die skuur op hul plaas Doornhoek omskep in ‘n ‘fine dine’ geleentheid met ‘n Franse tema.
“Ons het in die grendeltydperk besef hoe baie ‘n mens dit mis om te reis en saam familie en vriende te kuier. Aangesien ons nie kon reis nie, het ons besluit om met ‘n Franse plattelandse tema familie en vriende te onthaal,” het Renske gesê.
Die gaste is bedien deur die plaaslike skoolkinders geklee soos regte Franse kelners.
“Ons het die tema gekies omdat die Franse nes ons Suid Afrikaners baie lief is vir boer en rugby. Franse bloed vloei tog in baie van ons se are as Franse hugenote afstammelinge,” het Renske vertel.
Chef Meanda Mills en Ceecee Maboea, wat opgeleide Franse klassieke chefs van die Institute of Cullinary Arts Stellenbosch is, het gaste getrakteer met eg Franse disse. Gaste was ook tydens die geleentheid bekendgestel aan gepaste wyn om elke dis te komplimenteer.
Vic en Annemie Hancke het op 5 Desember die geleentheid ook gebruik om hul 22ste huweliksherdenking te vier.








