Local newsNews

Rina van Coller groet die koerant

Rina van Coller is geen onbekende gesig in die dorp nie en sedert die Heraut vir die eerste keer in 1985 op straat verskyn het, was sy betrokke. 

Weliswaar net in die tegniese versorging en proeflesing gedeelte, maar mettertyd koop die Van Coller egpaar die vennote uit en verhuis vanaf Kempton Park na Heidelberg om die Heraut hul lewenstaak te maak. Na haar eggenoot, AJ van Coller se afsterwe in 1993 word Rina die alleeneienaar en verkoop sy later ‘n gedeelte van haar aandele aan Caxton.

‘n Lang en vrugbare pad saam het gevolg tot einde Maart 2020, toe Rina siek geword het met Covid-19. Weens haar ouderdom was dit onwenslik om gedurende die grendeltydperk terug te keer werk toe as proefleser en besluit sy om nie meer aktief in die bestuur van die koerant te funksioneer nie, maar behou steeds haar aandeel. Sy verloor in hierdie tydperk (2 Junie) ook haar eggenoot van 25 jaar, Ronnie Schultz.

Rina het gesê sy handig nou die bestuur oor aan Caxton en het volle vertroue dat die koerant in die toekoms sal groei en floreer onder leiding van ywerige personeel en die bekwame bestuur van haar vennote.

“Ek gaan my aftrede en nuwe ‘pophuisie’ by Gemoedsrus Aftreeoord in Rensburg terdeë geniet en my so min as moontlik bekommer oor spelfoute en tikfoute,” het Rina gesê.

“Ek kom oorspronklik uit Heidelberg in die Wes-Kaap, maar Heidelberg, Gauteng, gaan my tuiste bly tot in ewigheid,” het sy nostalgies vertel.

“Ek bedank graag langs hierdie weg al my getroue lesers, adverteerders en personeel (huidige en verlede) wat die Heraut deur dik en dun bygestaan en ondersteun het.

“Totsiens, farewell, auf wiedersehen en adieu,” het Rina afgesluit.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button