Booker kritiek in intensiewe eenheid met Covid-19
Welbekende privaatspeurder, GPF-leier en slangvanger George Booker is in die intensiewe eenheid van Life Suikerbosrand Hospitaal opgeneem nadat hy met Covid-19 gediagnoseer was.
Volgens Booker se dogter, Yolandi Boshoff, het haar pa op 7 Januarie ’n slang in Shalimar Ridge gaan vang. Die slang het na hom gespoeg en hy het agteroor gesluier en geval.
Hy het op 8 Januarie begin siek voel, maar dit toegeskryf aan die val.
Teen Saterdagoggend het hy kouekoors ontwikkel en nie reageer op sy vrou wat hom versorg het nie. Volgens Yolandi was sy lippe en gesig blou. Hy is inderhaas opgeneem by die hospitaal met suurstofvlakke van onder 30, wat gevaarlik laag was.
Nadat sy seun, George Booker jnr, die hospitaal Maandagoggend gekontak het, is hy ingelig dat sy pa in die vroeë ure van die oggend versleg het en na die intensiewe eenheid verplaas is. Die dokter wat hom behandel het ook genoem dat sy lewe in gevaar was.
“My pa reis baie as deel van sy werk, maar hy is baie versigtig en kom al die Covid-19 protokols na. Hy het nie ’n idee waar hy die virus kon optel nie,” het Yolandi gesê.
As gevolg van ’n nuwe mediese fonds se voorwaardes word Booker se hospitaalonkostes nie gedek nie en Yolandi het die gemeenskap gevra vir hulp.
“Ons is baie dankbaar vir die ondersteuning en spoedige hulp van die gemeenskap en het tot dusver R120 000 van die R466 000 wat nodig is vir mediese sorg ingesamel,” het Yolandi vertel.
Booker se familie is tans onder kwarentyn.
Ten tye van publikasie was Booker steeds in die intensiewe eenheid en sy toestand kritiek.
Enige een wat ’n bydra wil maak tot George Booker se mediese onkoste kan Yolandi Boshoff by 071 877 9088 skakel.




