Inwoners maak self parkie skoon
Die parkie in Museumstraat, Heidelberg Sentraal, word volgens inwoners al vir maande nie onderhou nie.
Die gras en onkruid het al dig gegroei en was ‘n seer oog vir inwoners in die omgewing. ‘n Versoek is deur een van die inwoners by Lesedie Plaaslike Munisipaliteit (LPM) ingedien om die gras te sny en die parkie skoon te maak.
Na drie weke het ‘n LPM werker glo die parkie besoek met ‘n grassnyer-trekker, geen werk verrig nie en net weer gery.
Die inwoners het besluit om hef in eie hande te neem en het onder mekaar donasies gegee vir diesel, swartsakke en ander benodighede om die park weer te herstel na sy glorie.
Neels Pruis het met sy trekker die park se gras gesny.
“Ons was moeg gewag om ons park skoon te kry en het besluit dit self te doen,” het ‘n inwoner vertel.
“Ons is dankbaar vir die gemeenskap wat almal saam gestaan het en is trots op die parkie waar ons nou weer kan ontspan nadat dit herstel is tot sy mooi glorie,” het nog ‘n inwoner vertel.






