Bekende Nigel dokter sterf
Dit was met groot hartseer wat die inwoners van Nigel en die omliggende omgewing geleer het van dr JH Heunis (76) se afsterwe op 30 Januarie.
Familie en vriende is in rou gedompel na die afsterwe van dr Herman Heunis wat vir jare lank as huisdokter in Nigel gewerk het.
Sy afsterwe kom slegs enkele maande na hy in Junie afgetree het weens gesondheidsredes.
Heunis was ’n algemene mediese praktisyn, een van Nigel se bekendste geneeshere. In die 44 jaar wat hy hier in Nigel gewoon en gewerk het, was hy baie betrokke by sy pasiënte, nie net langs die siek- of sterfbed nie, maar ook in die bystaan en oordra van goeie nuus.
“Ek sal altyd onthou hoe toegewyd hy was aan sy werk en met hoeveel oorgawe en liefde hy mense gedokter het,” het sy vrou, Santa, gesê.
Die twee was 51 jaar en nege maande getroud en het drie kinders gehad. Hulle het ook een kleinkind.
“Sy gesin was baie belangrik vir hom. Daarom het hy altyd spesiale vakansies en uitstappies gereël om kwaliteit tyd met ons te spandeer.
“Hy was vir ons ’n voorbeeld as gelowige wat nie sy eie belange voorop gestel het nie,” het sy vrou gesê.
Heunis is oorlede as gevolg van ’n seldsame kanker, ’n desmoid tumor, ’n abnormale groei wat voortspruit uit bindweefsel. Dit is normaalweg dié weefsel wat sterkte en buigsaamheid bied aan strukture soos bene, ligamente asook spiere.
Heunis was deur sy vrou tuis versorg terwyl dr CE Barnes na sy mediese behoeftes omgesien het. Barnes was sedert Februarie 2012 Heunis se vennoot.
“Dit is ’n enorme verlies vir ons wat moet agterbly, maar ons Here het ’n engel in elke sin van die woord vandag bygekry,” het Barnes op haar spreekkamer se Facebook-blad geskryf.
“Aan dr Barnes en dr Wiets Steyn wat hom bygestaan het terwyl dr Barnes self siek was die afgelope paar weke wil ek net my opregte dank uitspreek vir opregte liefde en sorg,” het Santa gesê.
Heunis se afskeidsdiens was op 6 Februarie in die NG Kerk Nigel-Oos gehou. Slegs familie was toegelaat weens Covid-19 regulasies.





