Local newsNews

Dit verg werk om armoede te beveg

Johan Geere (75) woon in die Gemoedsrus Aftree-oord nadat hy onglangs vanaf Ladysmith in KwaZulu-Natal na Heidelberg verhuis het.

Hy was geliefd onder die Ladysmith gemeenskap en bekend vir sy opheffingsprojek onder straatverkopers.

As afgetrede opleidingsbestuurder met ’n liefde vir sy medemens, het Johan gereeld navorsing gedoen oor die effek van menslike armoede op ontwikkeling en produktiwiteitspotensiaal.

“Ek leef in groot dankbaarheid teenoor die Almagtige dat ek tot nou toe ’n goeie lewe kon lei onder Sy beskerming en voorsiening. Maar ek walg van die vernietigende armoede wat soos ’n stink miswalm oor Suid-Afrika hang.

“Die aanskoue daarvan en die menslike lyding wat daarmee gepaard gaan, ongeag kleur of ras of kultuur, skree ten hemele en dien as ’n noodkreet tot optrede,” het Johan vertel.

“Die gevolge van ’n langdurige honger is nie iets wat jy net met ’n brood kan oplos nie,” het Johan gesê en verduidelik dat wanvoeding en die stres wat ’n omgewing van armoede meebring, veroorsaak dat ’n kind fisies en intellektueel nie behoorlik kan ontwikkel nie.

Dit kan lei tot vele gebrekke soos aandagverlies-sindroom, outisme en disleksie.

Johan het ook verneem dat menslike armoede die vermoë om te leer en te ontwikkel so nadelig beïnvloed dat dit uiteindelik sal lei tot ’n lae produktiwiteitspotensiaal.

Die United Nations Development Programme gebruik gesondheid en onderwys as aanwysers om die produktiwiteitspotensiaal van toekomstige werkers te bepaal. Dit word die Human Capital Index genoem.

Die indeks meet die hoeveelheid menslike kapitaal wat ’n kind wat vandag gebore is, kan verwag om teen die ouderdom van 18 te bereik, gegewe die risiko’s van swak gesondheid en swak opvoeding in die land waar hy of sy woon.

Die indeks is opgestel vir ’n lys van 157 lande, waar Suid-Afrika hom tans in die 126ste posisie bevind na lande soos Gaza (84ste), Zimbabwe (116de), Swaziland (124 ste) en Malawi (125ste).

Die indeks het bepaal dat die leerder wat nou op Suid-Afrika se skoolbanke sit eendag oor slegs 41% van die produktiwiteit beskik wat hy behoort te bereik.

Hy sal moontlik ontneem wees van die ontwikkeling en inkomste wat ’n goeie werk sou voorsien. Die vernietiging van menswaardigheid, die honger en die vernedering van verarming sal dus oorspoel na opvolgende geslagte.

Enige plan wat daar gestel word om die probleem van armoede op te los, sal dus ’n program van omvattende en doelgerigte menslike ontwikkelings moet insluit en sal moet fokus op die herstel van waardigheid, voorsiening van geleenthede, skepping van ’n leefbare inkomste, toegang tot genoegsame voedsel en bevordering van fisiese en geestelike ontwikkeling.

Dit is met hierdie feite dat Johan besluit het om in te spring en ’n bydra maak teenoor die Heidelberg gemeenskap.

“In Ladysmith het ek ’n weeklikse advertensie in die plaaslike koerant geplaas en mense het dan vir my klere gebring wat ons aan die straatverkopers verkoop het. Omdat ons dit verniet kon kry het ons dit baie goedkoop aan hulle verkoop en hulle winsgrens daardeur baie verhoog.

“Die geld wat ons so ontvang het, het ons weer ander behoeftes mee voorsien. Ons het byvoorbeeld vir iemand prostese voorsien, vir ander kos voorsien,” het Johan verduidelik.

Hy het bygevoeg dat deur die projek vir straatverkopers geleer word hoe om produktiwiteit te verhoog deur ’n entrepreneur te wees en sodoende ’n inkomste te werf.

“Met die werkoolsheidssyfer wat skrikwekkend hoog is in Suid-Afrika kan ons nie sit en wag vir iets om te gebeur as ons nie self inspring en iets doen nie. Ons sit op ’n vulkaan wat enige tyd kan uitbars, en die afgelope tyd se geweld het bewys hoe maklik dit kan gebeur,” het Johan gesê.

Die geweld en chaos wat in KwaZulu-Natal en Gauteng gestig is, het nie net die slegte in gemeenskappe bewys nie. Die verhaal het ook vertel van die goeies en die edeles wat saamgestaan het om te verdedig wat goed en reg is.

Diè wat geveg het om die fondamente van die beskawing, te behou. Dit het ook bewys dat daar ‘n groot reservoir van interrasse welwillendheid op grondvlak is wat tot almal se voordeel gemyn kan word in die heropbou van Suid-Afrika.

“Ek wil nie meer soos ’n toeskouer sit en wag dat ’n ramp gebeur nie. Dit is tyd om op te tree en iets te doen om werkskepping en produktiwiteit in ons land te bevorder.

“Om te begin om ’n beskeie verskil te maak, sal ek die aanvanklike befondsing van die projek voorsien. Ek begin dus deur aan wie ookal in die gemeenskap van Heidelberg belangstel te vra om aan my tweedehandse klere te voorsien. Ek sal dit kom afhaal en aan enige persoon wat dit van my vra, my aksie plan uiteensit,” het Johan gesê.

“Straatverkopers is die mense wat probeer om ’n lewe uit niks te maak. Hulle verkoop hoofsaaklik klere en kos soos vrugte en groente en daar is baie min sprake van diversifisering.

“Indien hulle ondersteun kan word deur aan hulle ’n groter verskeidenheid van voorraad te voorsien, kan hulle eie winste geweldig verhoog word, maar die beter georganiseerde voorsiening aan die armstes kan ’n beter lewenstandaard teen laer koste verseker.

“Die straatverkopers het dus ’n hoë potensiaal om die lewenskoste van die armstes te verlaag, hulle lewensstandaard te verhoog en om vars voedsel teen kompeterende pryse in die ‘townships’ te versprei en uiteindelik ook die grondslag vorm vir ’n nuwe ondernemersklas.”

Johan het genoem dat hy sy inspirasie kry uit die woorde van Albert Schweitzer: “The observation of so much human suffering may cause us to be overcome by pessimism, but rather than to cause us to withdraw from society, our pessimism should inspire us to action.”

Vir meer inligting kan Johan Geere by 083 635 3196 of op geere.johan@gmail.com

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Heidelberg Nigel Heraut in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button