Positiewe impak van sport op aandagafleibaarheid
Die Heraut leer ons mense ken en gesels prontuit oor kwessies wat hul lewe beïnvloed het.
Hierdie week se onderwerp handel oor die positiewe impak van sport op skoolwerk vir kinders, wat met aandaggebrek en hiperaktiwiteitsversteuring (AGHS) gediagnoseer word.
Volgens die Nasionale Instituut van Neurologiese Afwykings word aandaggebrek-hiperaktiwiteitsteuring, grootliks beskou as ‘n neurologiese steuring wat omtrent 5% van die wêreld se bevolking beïnvloed.
Dit ontstaan reeds in die vroeë jare van ‘n kind en word geklassifiseer as patrone van aanhoudende verloor van aandag en/of hiperaktiwiteit.
Dit word gewoonlik verbind aan vergeetagtigheid en min beheer oor eie impulsiwiteit.
Met die begin van ‘n nuwe skooljaar is dit ook die begin van nuwe uitdagings, veral vir woelwaters wat gewoond was aan speel en nou vir ure per dag moet stilsit in ‘n klaskamer.
Die Heraut het met Ruan Greyling (27) gesels wat in Graad Een met AGHS gediagnoseer was en hoe sy deelname aan sport hom gehelp het.
Ruan het dit verduidelik deur elke woord van AGHS op te breek.
‘Aandag’ vir hom, het beteken dat hy nie vir lank kon konsentreer nie.
“Dit het gevoel of my lyf te besig was vir my brein. As my brein nie kon aandag gee nie, het ek iets gesoek om met my hande te doen.
“In Graad Een het ek die klas op verskeie kere verlaat en klippe gaan skop of leë bottels gesoek om mee te speel. Amper asof my brein nie kon aandag gee as my hande nie besig was nie,” het Ruan vertel.
‘Gebrek’ beskryf Ruan as die onvermoë om op slegs een ding op ‘n slag to fokus.
Hy vertel in sy ondervinding met AGHS, dat as hy vir ‘n item gekyk het, was sy brein reeds besig om te beplan wat hy alles met die item kon doen of hoe hy dit kon opbreek, verbou of verander.
‘Hiperaktiwiteit’ het hy beskryf as die onvermoë om stil te sit. Hy het byvoorbeeld heeltyd op sy stoel gery, gepeuter met potlode om sy hande besig te hou en sy brein was besig met alles wat sy oë kon sien en sy hande of voete kon aanraak. Hy het ook baie gou verveeld geraak.
Nadat Ruan in graad een ‘n dokter gaan sien het wat in AGHS spesialiseer, is hy aangeraai om in karate deel te neem.
Hy het aangesluit by ‘n karateklub en dadelik daarby baatgevind.
Sensei Bernard Raubenheimer, 6de dan en top gekwalifiseerde afrigter by dojo’s in Heidelberg en Nigel vertel dat karate dissipline kweek deur ‘n gestruktureerde kurrikulum te volg en spesifieke reëls na te kom.
“Dit help kinders om te fokus, konsentreer en respek vir gesag te ontwikkel,” vertel Raubenheimer.
“Karate het my dissipline geleer. Daar is verskeie stappe in elke tegniek. Dit het my brein geleer om in stappe te dink. Om tegnieke perfek uit te voer, verg oefening en konsentrasie en tegnieke word oor en oor gedoen totdat jy elke stap ken,” het Ruan verduidelik.
Ruan het in sy hoërskooljare met gemengde vegkuns begin en by Stefan Pretorius, Heidelberg MMA kampioen se klub in aangesluit.
“Stefan was een van my grootste mentors en het my geleer dat die fokus en konsentrasie wat nodig is om elke tegniek herhaaldelik perfek uit te oefen ’n leefstyl is en so toegepas kan word op skoolwerk en die lewe sodat dit ‘n kultuur word.
“Deur daagliks elke stap en elke tegniek oor en oor te oefen, leer jou brein om proses te funksioneer, om te analiseer en te besluit op die volgende stap sonder om impulsief te wees,” het Ruan verduidelik.
Ruan was in 2013 die SA Gemengde Vegkuns kampioen in sy ouderdom en gewigsgroep.
“Ek is vandag 27 en pas steeds die tegnieke, wat ek in karate en gemengde vegkuns geleer het toe in my daaglikse lewe. “AGHS is nie meer vir my ‘n uitdaging nie, inteendeel dit is my ‘super power’.
“Dit help my konsentreer en fokus op wat belangrik is.
“Omdat daar soveel stappe en tegnieke in beide sporte is, verg dit uithouvermoë, geduld en oefening om dit uiteindelik perfek te doen.
“Jy leer daar is ‘n plek en tyd vir alles en standaarde waarvolgens dinge gedoen moet word,” het hy verduidelik.
Ruan is vandag in die elektriese bedryf waar hy daagliks alles in sy werk volgens sekere standaarde moet doen en hy glo dat die feit dat hy in karate en gemengde vegkuns gespesialiseer het as kind, deel van sy suksesresep is vandag.
“My raad aan enige kind of ouer wie se kind met AGHS gediagnoseer word, is om aan ‘n gedissiplineerde sport deel te neem.
“Bly nuuskierig, leer nuwe stappe en maak die dissipline van die sport jou leefstyl,” het Ruan afgesluit.



