Hy was ons held: Vrou en dogters vertel van genesing na majoor Pieterse se dood
"Ons held sal altyd in ons harte bly, maar hy sou wou hê dat ons moet aangaan en voluit lewe," het Marie tydens 'n onderhoud met HERAUT vertel.
Die verlies van ‘n lewensmaat en pa bring ‘n diepgaande leemte, en vir ‘n vrou met twee dogters is die reis vol emosionele en praktiese uitdagings.
Op 8 Julie 2024, het Marie Pieterse die nuus gekry dat haar man, majoor Tolla Pieterse in die DRK (Demokratiese Republiek van die Kongo) gesterf het.
Nege maande na Tolla se dood, het Marie steeds nie antwoorde of duidelikheid oor wat presies gebeur het en wat die omstandighede was wat na Tolla se dood gelei het nie.
Marie en Tolla was sedert 2000 saam, is in 2004 getroud en het twee dogters, Marla (20) en Bianka (17).
In ‘n onderhoud met HERAUT het Marie vertel hoe sy en haar dogters die tragedie moes verwerk en moes aangaan met hul lewens.
Marie het vertel dat sy na haar man se dood, liggaamlik en emosioneel ingegee het.
“Van die dag dat ek die nuus oor sy dood gekry het, het daar ‘n tsunami van emosies oor my gekom.
“Die skok was so diep dat my verstand dit nie dadelik kon begryp nie en die wêreld om my was vreemd en onwerklik,” het Marie vertel.
“Op 43 was ek skielik ‘n enkel ouer en ‘n weduwee en boonop was die oorsaak rondom my man se dood nie duidelik nie,” het Marie voortgegaan en vertel dat sy hulpeloos gevoel het en bly soek het na antwoorde wat sy nie kon kry nie.
Majoor Pieterse was beskryf as gedissiplineerd met streng gedragskodes. Die weermag was sy voltydse loopbaan en hy het ‘n honneursgraad in Militêre Wetenskap gehad.
Die oorsake rondom sy dood was dus vir Marie wat self in die weermag was, baie vreemd.
“Ek het bly soek na antwoorde. Ek het nagmerries gekry en in my drome gesien hoe Tolla sukkel en nie hulp kry nie,” het Marie vertel.
“Maar, hoe meer ek probeer soek het na antwoorde, hoe meer het ek agteruit gegaan. Daar was ‘n verlammende pyn wat my binneste geskeur het.
“Ek het letterlik nie die krag gehad om op te staan of aan te gaan nie,” het Marie voortgegaan. Sy vertel hoe die gemeenskap van Heidelberg haar en haar dogters ondersteun het en tot twee maande na Tolla se dood vir hul kos gebring en gereeld by haar gaan inloer het.
Sy het vertel van die angs wat haar oorval het, onsekerheid van hoe sy haar kinders moet troos, hoe sy alleen moet aangaan en dan het die woede gekom oor die onregverdigheid teenoor die lewe, vrae sonder antwoorde en vrae van hoekom dit met haar moes gebeur.
Marie besit ‘n swemskool en het vertel sy het haar in haar werk begrawe.
“Ek het besef die lewe moet aangaan nadat my senuwees ingegee en ek mediese behandeling en berading gekry het.
“Ek het twee pragtige dogters en ek het Tolla se nalatenskap om te laat voortleef,” het Marie gesê en vertel dat te midde van haar rou, daar flitse van herinneringe is aan die oomblikke van liefde, vreugde en haar en Tolla se diep verbondenheid.
Hierdie oomblikke, al is dit pynlik, het haar herinner dat sy hom altyd in haar hart sal dra, al is hy nie meer daar nie.
“Tolla het alles met passie gedoen. Hy het ons geleer van volharding en hoe om elke oomblik van die lewe spesiaal en onvergeetlik te maak.
“Deur foto’s, stories, en spesiale oomblikke te onthou, sal sy invloed ‘n bron van troos en inspirasie vir ons bly.
“Hy sou wou hê dat ons moet aangaan met die lewe en bou op sy nalatenskap,” het Marie gesê.
Hul oudste dogter Marla het as grondslagfase onderwyser begin werk by die Heidelberg Outisme Sentrum en vertel alhoewel haar pa fisies weg is, sal die lewenslesse wat hy haar geleer het, haar vir altyd bybly.
“Die persoon mag weg wees, maar die herhinneringe sal nooit vergaan nie,” het sy gesê.
Vir Bianka sal haar pa voortleef in waardering vir alles, al is dit hoe klein.
“My pa was my super ster en ek sal hom onthou in elke klein of groot aspek van my lewe,” het sy gesê.
Aanvaarding dat die lewe verander het, was Marie en haar dogters se eerste stap na herstel.
Ter nagedagtenis aan Tolla het die drie ‘girls’ elkeen ‘n tatoeëermerk gekry.
Marla sin sê: ‘Heaven has my hero’, Bianka het sterre want haar pa was haar ster en Marie het ‘n poppie blom as ‘n teken van ‘n gevalle soldaat.
“Nadat ons lewens oornag uitmekaar geval het, tel ons stadig die stukke op en begin aangaan met die lewe soos Tolla sou wou hê ons moet,” het Marie afgesluit.




