Ermeloërs bankvas agter Airlink Pumas
Jimmy Stonehouse, die hoofafrigter, MJ Mentz, die agterlynafrigter, Corné Steenkamp, die voorspelerafrigter, en een van die spelers, Tapiwa Mafura, het almal aan Hoërskool Ermelo gematrikuleer.
Met drie oud-Ermeloërs as afrigters van die Airlink Pumas, was die dorpenaars Saterdag tydens die Curriebekereindstryd vasgenael voor die TV.
Jimmy Stonehouse, die hoofafrigter, MJ Mentz, die agterlynafrigter, Corné Steenkamp, die voorspelerafrigter, en een van die spelers, Tapiwa Mafura, het almal aan Hoërskool Ermelo gematrikuleer.
In ‘n aksiebelaaide wedstryd tussen die Airlink Pumas en die Windhoek Draft Griquas, het die Pumas met ‘n telling van 26-19 koning gekraai.
Die Pumas se heelagter, Devon Williams, en haker, Eduan Swart, het twee drieë vir die span aangeteken, terwyl Eddie Fouché die eerste drie verdoel het en twee strafskoppe oorgeskop het.
Met drie strafskoppe vir die Griekwas was die rustydtelling 18-9 in die Pumas se guns.
Die Griekwas het wel goeie ritme in die tweede helfte gevind, maar op die ou end was dit drie drieë vir die Pumas na net een van Griekwas.
Stonehouse het die volgende op sy sosiale media gedeel: “Al die eer aan God. Dankie dat U dit moontlik gemaak het, dankie vir ‘n wonderlike span, wonderlike afrigtingspan en ‘n wonderlike ondersteuningsbasis in Mbombela.
“Maar dankie aan twee spesiale seuns in my lewe, MJ Mentz en Corné Steenkamp. Dankie vir die reis van Hoërskool Ermelo tot nou, dit was ‘n wonderlike rit. Wat julle na die span bring is spesiaal.”



