Amsterdam se Glen Aggy velddraf kry nuwe waterbrug
Van ’n rustige natuurwandeling tot ’n 23 km-uitdaging: deelnemers bepaal self hoe hulle Glen Aggy aanpak.
AMSTERDAM – Kry jou tekkies gereed Glen Aggy se velddraf is weer om die draai.
Op Saterdag 3 Oktober kry deelnemers die geleentheid om die dag op hul eie manier aan te pak – van ’n rustige wandeling deur die natuur tot ’n 23 km-velddraf.
Daar is vanjaar vier opsies op die program: ’n 3 km-begeleide natuurwandeling, ’n 5 km-pretloop, asook die 10 km- en 23 km-velddraf.
Vir deelnemers is daar ook ’n nuwe waterbrug vanjaar deel van die roete wat beslis iets is om na uit te sien. Vir sommige is die waterbrug jaarliks ’n uitdaging, maar vir sommige ook die ideale geleentheid om sommer ’n bietjie “af te koel”.
Vir dié wat egter hul tyd wil neem en die omgewing op ’n rustiger pas wil ervaar, is die 3 km-begeleide natuurwandeling vanjaar deel van die program.
Of jy nou stap, aan ’n pretloop deelneem of jou tekkies vir een van die langer veldlope gereedkry, is daar verskillende maniere om deel van Glen Aggy se velddrafdag te wees.

Maar voordat jy wegspring, moet deelnemers natuurlik eers registreer.
Aanlyninskrywings sluit Woensdag 30 September om middernag.
SIEN OOK: GALLERY – Chill and cheer at the Glen Aggy Trail Run in Amsterdam
Wie eers daarna besluit om deel te neem, hoef egter nie noodwendig die tekkies terug in die kas te bêre nie. Volgens die Glen Aggy-organiseerders kan deelnemers reeds Vrydagmiddag voor die wedloop tussen 15:00 en 16:30 registreer.
Registrasie is ook op die dag van die wedloop vanaf 05:00 tot 06:00 beskikbaar.
Die proses word met behulp van ’n QR-kode hanteer. Deelnemers sal die kode skandeer en die registrasieproses op hul selfone voltooi.
Met ’n nuwe waterbrug, ’n begeleide natuurwandeling en vier verskillende opsies op die program, is Glen Aggy gereed om deelnemers op 3 Oktober weer op die roete te verwelkom.
Vir navrae kan Konrad Munnik by 083 957 9741 geskakel word.
Aanlyninskrywings kan gedoen word by www.glenvleis.co.za.



