Inwoners sonder krag
Inwoners verwag beter standaarde van die munisipaliteit.
BETHAL – Plaaslike inwoners ondervind na die storm op 7 Oktober gereelde kragonderbrekings.
Mnr. Gert de Beer wat in Veralaan woon, was vanaf 7 tot 11 Oktober sonder krag.
Hy het gesê dat hy die munisipaliteit verskeie kere geskakel het, maar dat hulle traag was om te reageer.
Munisipale werkers het wel later sy kragtoevoer met die kragboks van sy buurman verbind.
Kragpale voor mnr. De Beer se huis was reeds voor die storm onstabiel, maar nou is hulle naby omval.
“Is dit die standaard waarvolgens die munisipaliteit werk?” wou hy weet.
“Munisipale werkers het bome gesnoei en die takke is ook nog nie verwyder nie.”
Volgens hom is die takke die enigste rede waarom die pale nog regop staan.
“Indien die munisipaliteit nie dié bome verwyder en die pale herstel nie, is die uiteinde verseker skade vir inwoners.
“As dié kragpale op iemand se huis omval of iemand word deur die drade geëlektrifiseer, gaan die munisipaliteit hom dan eers oor die inwoners ontferm?”
Mnr. Henry Masango, uitvoerende hoof van bemarking en kommunikasie van die munisipaliteit, het gesê: “Die lae spanning elektriese netwerk by Veralaan, is deur die storm van Maandag, 7 Oktober, beskadig.
“Ons primêre funksie na afloop van die storm was om die netwerk relatief bruikbaar te maak en krag aan almal wat geraak was deur die storm te herstel en al die abnormaliteite te normaliseer.
“ Ons is oral besig om abnormaliteite insluitend Vera Laan te normaliseer.”