Lugvaartvereniging sluit jaar gesellig af
Die dag het met ’n taktiese navigasie-oefening begin.
Lede van die Ermelo Lugvaartvereniging het Saterdag hul jaar-afsluiting by die vliegveld gehou.
Die dag het met ’n taktiese navigasie-oefening begin.
Dié vlug het noue samewerking tussen vlieënier en navigator vereis.
Spanne het vooraf ’n sekere aantal koõrdinate ontvang en moes ’n roete in ’n uur voltooi waartydens hulle ’n spoed wat vooraf deur die vlieënier genomineer is, moes handhaaf.
Tydens die roete moes die spanne teikens soos ’n brug of damwal op die grond identifiseer.
Navigators moes verseker dat vlieëniers nie te vroeg of te laat oor die teikens vlieg nie.
Die span van Freddie Marx en Manie Potgieter was die wenners in die kaartwerkafdeling.
Die vlieëniers moes op of so naby as moontlik aan ’n lyn op die aanloopbaan land.
Jan Grey, Ryk Pretorius en Chris Rothmann het dié landing perfek uitgevoer.
Die pa-en-seun-kombinasie, Jantjie en Charles Randell, was die wenners in die tydafdeling nadat hulle die afsnytyd met vyf sekondes gemis het.
Coetzee van der Merwe, geklee in sy handelsvlieënieruitrusting, is aangewys as die bes-geklede vlieënier.
Die wenners het elk ’n R300-geskenkbewys wat deur Spur en Ocean Basket geborg is, ontvang.
Die vlieëniers, navigators en gaste het ná afloop van die kompetisie gesellig saam gekuier.