Petrus maak goeie vordering
Hy kon verlede week vir die eerste keer sedert die ongeluk ’n ruk in’n stoel sit en self eet.

Petrus von Wielligh wat verlede maand ernstig beseer is in ’n ongeluk op die pad na Amersfoort maak goeie vordering in die Milpark Hospitaal.
Hy verkeer steeds in die intensiewesorgeenheid en indien die dokters tevrede is met sy vordering, sal hy binnekort na ’n algemene saal oorgeplaas word.
Hy kon verlede week vir die eerste keer sedert die ongeluk ’n ruk in’n stoel sit en self eet. Die bloedsomloop in sy bene is bevredigend en teen Dinsdagoggend was dokters hoopvol dat hy van die ventilator gespeen sou word.
“Daar lê egter ’n lang pad van herstel voor, maar die vordering wat hy tot dusver gemaak het, is niks anders as ’n wonderwork nie,” het Petrus se vrou, Mariaan, laat weet. “Ons familie is absoluut oorweldig deur die goeie wense, boodskappe van beterskap en bowenal die volgehoue gebede.
“Ons waardeer elkeen en sal graag elkeen persoonlik wil dankie sê, maar daar is net te veel. Ons verstaan ook mense het net goeie bedoelings, maar op dié tydstip word besoekers nog nie gereeld toegelaat nie. Ons vra dat mense nie spesiaal na Johannesburg moet ry om Petrus te besoek nie; die hospitaal pas die reëls streng toe en ons wil nie hê mense moet teleurgestel word nie,” het Mariaan gesê.
’n Ondersteuningsgroep, Petrus von Wielligh Support Group, is op Facebook beskikbaar waar gereelde opdaterings van Petrus se vordering geplaas word.