Die oplettendheid van die hoof van die Genesaret-plaaswag en die vinnige optrede van boere in die omgewing het daartoe gelei dat twee vermeende daggasmouse Sondagaand in hegtenis geneem is.
Daar is beslag gelê op vier groot sportsakke vol saamgeperste dagga met ’n geskatte straatwaarde van bykans R100 000.
Die drama het reeds vroeër die middag begin ontvou toe daar opgemerk is hoe twee mans sakke in die veld langs die pad tussen Ermelo en Chrissiesmeer aflaai. Die vermoede was dat die dagga later weer deur die mans of medepligtes opgelaai sou word.
Lede van die plaaswag en die polisie is in kennis gestel en ’n padblokkade is opgestel.
Die verdagtes het daarin geslaag om te ontglip, maar ’n beskrywing van die voertuig is aan die polisie gegee.
Die voertuig is omstreeks 21:00 deur die polisie en plaaswaglede in ’n woongebied op Chrissiesmeer opgespoor en die twee verdagtes is in hegtenis geneem.



