Twee sterf ná skietvoorval op Amersfoort-plaas
Die Mpumalanga-polisie het besonderhede bekend gemaak oor die skietvoorval en die gebeure wat tydens onderhandelinge gevolg het.
AMERSFOORT – Die polisie ondersoek sake van moord, poging tot moord en ontvoering ná ’n gyselaarsvoorval op 10 Oktober op ’n plaas by Amersfoort waarin twee mense dood is.
Volgens brig. Donald Mdhluli, provinsiale polisiewoordvoerder, is polisielede omstreeks 06:00 na die plaas ontbied.
Met hul aankoms het hulle drie slagoffers aangetref wat daarin geslaag het om te ontsnap.
“Die slagoffers het aangedui dat ’n 55-jarige verdagte, wat met ’n vuurwapen gewapen was, hulle as gyselaars aangehou het. Daar word beweer dat die verdagte een van die slagoffers noodlottig geskiet en ’n ander een gewond het,” het Mdhluli gesê.
Die gewonde slagoffer het die skietery oorleef en is per helikopter na ’n hospitaal geneem vir mediese behandeling.
Ná die skietvoorval het die verdagte glo na die plaashuis teruggekeer.
’n Span gyselaaronderhandelaars en ander polisiedienste is na die toneel ontplooi om die situasie te hanteer.
Volgens Mdhluli het die verdagte homself vermoedelik geskiet terwyl onderhandelinge met hom aan die gang was. Hy is op die toneel dood verklaar.
Mdhluli het bevestig dat die polisie die identiteit van die man ken, maar dat dit eers bekend gemaak sal word sodra alle toepaslike prosesse afgehandel is.
’n 9 mm-pistool is ook op die toneel gevind.
Die Mpumalanga-polisiekommissaris, lt.genl. Apaphia Modise, het haar kommer oor die voorval uitgespreek en gewaarsku teen die gevare wat met die onwettige gebruik of verkeerde hantering van vuurwapens gepaardgaan.
Sy het lede van die publiek aangemoedig om enige persoon wie se optrede met ’n vuurwapen nie aan die bepalings van Suid-Afrika se Wet op die Beheer van Vuurwapens voldoen nie, by die polisie aan te meld.
Dit sluit ook persone in wat wettiglik oor vuurwapenlisensies beskik.



