Die voorbladverslag van verlede week se Hoëvelder oor sypadsondes het ’n positiewe reaksie ontlok.
Stasiebevelvoerder Kol. Mavuso en seksiebevelvoerder Lucky Nkosi het besoek afgelê by mnr. Hein Lamprecht wat die probleem aan die lig gebring het.
Hulle het gekyk na die beeldmateriaal wat hy die vorige Saterdag vasgelê het van ’n man wat vermoedelik met dwelms handel en van mense wat op straat dobbel.
Met hul aankoms, het hulle ’n groep van vier mans sien dobbel en twee mans wat dagga rook. Al ses is in hegtenis geneem.
Kol. Mavuso het opdrag gegee dat voertuigeenhede die gebied meer gereeld patrolleer en seksiebevelvoerder Nkosi is aangestel om die aangeleentheid te monitor.
Die polisie beoog ’n vergadering met die sakesektor om die misbruik van drank, dwelms en dobbel te bekamp. ’n Datum vir die vergadering is nog nie vasgestel nie.
At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!



