Editor's choiceGeneralLocal newsNews

Stroopsoet oorwinning

Gerda het 28 jaar gelede vir Tuiskoop koeksisters begin bak volgens die onveranderde resep wat haar ouma vir haar nagelaat het.

Gerda Swanepoel, die vrou agter Ermelo se Ouma Rooi-koeksisters, is Saterdagaand by die Innibosfees in Nelspruit gekroon as Huletts se Koeksister- kampioen 2014.
Inskrywings van 9 640 baksters is ontvang vir die nasionale kompetisie waaruit 10 semi-finaliste gekies is deur sms-stemme.
Daarna het ’n paneel van 21 die koeksisters geproe en beoordeel en die vier finaliste is aangewys wat teen mekaar te staan gekom het by Innibos.
Die finaliste is elk verlede Dinsdag ’n kleur toegeken en Gerda se verbasing was groot toe sy bo alle verwagting rooi toegeken is, maar dit was ook ’n goeie voorteken van wat sou volg.
Feesgangers kon van Woensdag tot Saterdag proe en vir hul gunsteling-koeksisters stem.
Volgens Gerda was die stemproses senutergend en het die finaliste op geen tydstip geweet wie se koeksisters die feesgangers beïndruk nie. Hulle is ook verbied om hul kleure te bemark en sodoende die stemme te beïnvloed.
Nadat 10 000 koeksisters in vier dae geproe is, is Ermelo se uithalerbakster voor ’n gehoor van 40 000 mense gekroon as kampioen en het sy die prysgeld van R100 000 van Huletts ontvang.
Gerda het 28 jaar gelede vir Tuiskoop koeksisters begin bak volgens die onveranderde resep wat haar ouma vir haar nagelaat het.
Sy vertel dat sy die pad nie alleen gestap het nie en dat sy dit nie sonder haar gedugte span werkers kon doen nie.
Hulle het reeds om 06:00 verlede Maandagoggend begin meng, vleg en bak om 2 500 koeksisters teen 17:00 die volgende dag gereed te hê vir die fees in Nelspruit en elk van die helpers is beloon met ’n bonus.
Benewens die kleiner bestanddele, is 50kg suiker, 25kg meel, 20 liter olie en drie dosyn eiers verwerk vir die lekkernye wat agt ure geneem het om te bak en verpak.
Sedert Gerda terug is in Ermelo, het haar foon nog nie opgehou lui nie en gelukwense stroom van oral in.
Op die vraag of sy weer vir die kompetisie gaan inskryf, het Gerda geantwoord dat sy nou haar doel bereik het en dat sy eerder nou gaan fokus op die bemarking van haar produk en die pad wat Huletts vir haar oopgemaak het.
Huletts se bemarkingspan is ook reeds besig om ’n opname te reël vir die vroegoggend Dagbreek-televisieprogram op KykNet.
Datums vir dié uitsending en ander wat mag volg, was teen druktyd nog nie beskikbaar nie, maar lesers kan gerus die Hoëvelder se facebookblad daarvoor dophou.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Highvelder News in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button