Nuwe ongevalle-eenheid in ’n ander klas
Die kraamsaal, pediatriese en volwasse eenhede is vergroot en Vrydag het hulle amptelik die deure van die nuwe supermoderne ongevalle-eenheid geopen.
Mediclinic Ermelo is maande reeds besig met bouverbeterings en opknappingswerk.
Die kraamsaal, pediatriese en volwasse eenhede is vergroot en Vrydag het hulle amptelik die deure van die nuwe supermoderne ongevalle-eenheid geopen.
Waar daar voorheen na een pasiënt in die bybringsaal omgesien kon word, kan twee pasiënte nou gelyktydig gehelp word. Die ou eenheid kon vier pasiënte huisves, terwyl die nuwe eenheid nou met ’n kapasiteit van 10 spog.
Die eenheid het nou ook ’n ontsmettingstort en ’n isolasiekamer om verpreiding van siektes te voorkom.
Al die beddens is ook toegerus met hul eie monitors en toerusting wat dit moontlik maak om enige situasie te hanteer.
Veiligheid is prioriteit en alle ingange kan slegs van binne oopgemaak word, kameras is aangebring en die kringtelevisiestelsel word deurgaans gemonitor.
Pasiënte se privaatheid is ook baie belangrik en ’n privaat ondersoek- en behandellokaal maak voorsiening daarvoor.
’n Aparte ingang vir “lopende pasiënte” en ontvangs wat 24 uur beman word, maak dit moontlik om vinninger mediese hulp in noodgevalle te verleen.
Die volgende projekte wat aangepak word, is die vergroting van die apteek, bou van ’n kiosk en Ampath wat na die ou ongevalle-eenheid skuif.
Volgens die hospitaalbestuurder van Mediclinic Ermelo, me. Welma Bertram, beoog hulle om einde September met al die opknappings klaar te wees.



