’n Egpaar van Beekmanstraat in Nederlandpark het Sondagaand ’n angsvolle tyd deurgemaak toe hulle deur gewapende rowers in hul huis aangehou en van verskeie besittings beroof is.
Volgens die 52-jarige man, wat nie geïdentifiseer wil word nie, het hy kort na 21:00 sy hondjie laat uitgaan.
“Ek het iemand by die motorhuis gewaar en tot by ’n hek tussen die vierkant en die motorhuis gestap om nadere ondersoek in te stel.
“Skielik het ’n gewapende man aan die ander kant van die hek my beveel om dit oop te sluit.
“Ek het gemaak soos hy beveel het en toe het drie ander mans oor die muur gespring,” het die geskokte slagoffer aan die Hoëvelder vertel.
Hy is die huis ingedwing waar sy vrou reeds in die bed was.
Die rowers het haar uit die kamer geboender en die egpaar beveel om by die kombuistafel te sit.
“Een van die mans het ons aangehou terwyl die ander drie deur die huis gegaan het op soek na waardevolle artikels.
“Ek het later gesien ’n vyfde rower het buite in die straat in ’n wit Isuzu-bakkie gewag.
“Die rowers het elektroniese toerusting asook elektriese toebehore na buite gedra en op die bakkie gelaai. Tot ons vrieskas met vleis daarin en die ringe van ons vingers is gebuit,” het hy gesê.
Volgens die inwoner het van die rowers hom ook gedwing om na die motorhuis toe te gaan waar hulle sy motor geëis het.
“Ek het opgemerk dat hulle reeds die motorhuis se deur oopgebreek het en gesien dat van my toerusting, onder andere ’n kragopwekker, weg was.
“Ek het vir hulle gesê die motor is onklaar en hulle gewys dat die enjinkap nie behoorlik toe was nie, aangesien ek nog besig was om die motor te herstel.”
Hy is weer na die kombuis gedwing en hy en sy vrou moes in die kombuis wag terwyl die rowers hul plundertog voortgesit het.
“Op ’n kol het ek gemaak of ek val en toe ek op die vloer lê, kon ek na ’n tweerigtingradio gryp en alarm maak. Toe die rowers hoor ek roep die buurtwag, het hulle laat spaander,” het die inwoner gesê .
Lede van die buurtwag en die polisie was gou op die toneel en die huis is tot laatnag gefynkam vir vingerafdrukke en leidrade.
Teen druktyd was niemand nog in verband met die voorval aangekeer nie.
At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!



