Local newsNews

Corrie verloor stryd teen kanker

’n Bekende gebore Ermeloër,mnr. Corrie du Plooy (70), is Tweede Kersdag in ’n Pretoriase hospitaal oorlede.

 

’n Bekende gebore Ermeloër,mnr. Corrie du Plooy (70), is Tweede Kersdag in ’n Pretoriase hospitaal oorlede.

Hy het etlike maande ’n moedige stryd teen kanker gevoer.

Hy het in 1962 aan die EHS gematrikuleer en sy diensplig in die Vloot gedoen.

Daarna was hy 23 jaar by die destydse afslaersfirma Hubbard en Snyman werksaam voordat hy sy eie melkery bedryf en hom later op vleisbeesboerdery toegelê het.

Corrie was ’n kranige sportman wat veral in rugby uitgeblink het. Reeds op skolevlak het hy sy stempel afgedruk. In sy matriekjaar het hy die Erries se eerste rugbyspan aangevoer wat met 5 – 6 teen Helpmekaar in die halfeindstryd om die Administrateursbeker verloor het nadat die eerste wedstryd 6 – 6 gelykop geëindig het.

In senior klubrugby het hy ook sy spiere gebult en was ’n groot staatmaker van wyle Piet Ferreira se bulspan wat in 1966 die Oos-Transvaalse Grootuitdaagbeker verower het. Ermelo was die enigste plattelandse span wat dié prestasie behaal het.

Op provinsiale vlak het Corrie te midde van sterk mededinging, ook sy man gestaan. Hy het drie keer vir Oos-Transvaal, onder meer in ’n wedstryd teen die Franse wat in Suid-Afrika getoer het, en nege keer vir Suidoos-Transvaal wat hy vier keer aangevoer het, uitgedraf.

Nadat hy sy rugbystewels opgehang het, het hy hom op gholf toegelê, ’n sport waarin hy ook welslae behaal het.

Corrie word deur sy vrou, Colla, drie seuns, Kobus, JP en Christophe, ’n dogter Coreen, asook kleinkinders en skoonkinders oorleef.

’n Gedenkdiens word eerskomende Maandag om 11:00 vir hom in die Hervormde Kerk se moedergemeente in De Jagerstraat gehou. (CK)

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Highvelder News in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button