Sport

Ermelo-gewigopteller gekroon as SA kampioen

ERMELO – Harde werk, dissipline en deursettingsvermoë het vrugte afgewerp toe Natasha Klopper op 2 en 3 Oktober tydens die Suid-Afrikaanse Gewigoptelkampioenskap as die algehele kampioen in die 61 kg-gewigsklas gekroon is. Met ’n snatch van 63 kg en ’n clean and jerk van 78 kg het Natasha die titel ingepalm en haarself as die

ERMELO – Harde werk, dissipline en deursettingsvermoë het vrugte afgewerp toe Natasha Klopper op 2 en 3 Oktober tydens die Suid-Afrikaanse Gewigoptelkampioenskap as die algehele kampioen in die 61 kg-gewigsklas gekroon is.

Met ’n snatch van 63 kg en ’n clean and jerk van 78 kg het Natasha die titel ingepalm en haarself as die land se voorste gewigopteller in haar gewigsklas gevestig.

Hoewel haar doelwit aanvanklik was om minstens 65 kg in die snatch te lig, het sy verduidelik dat haar afrigter, Neill Pieterse, die nodige aanpassings op die dag gemaak het, afhangend van hoe sy gevoel het.

Die oomblik waarop sy besef het dat sy die Suid-Afrikaanse titel gewen het, sal haar bybly.

“Nadat ek klaar was, het ek en GD Koch agter gaan sit. Toe ek na die skerm kyk, het ek vir hom gesê: ‘Ek het gewen. Ek het regtig gewen.’”

Sy beskryf die gevoel as ’n kombinasie van verligting en opgewondenheid, veral omdat die titel die harde werk en ure se voorbereiding weerspieël.



Haar gewone oefenprogram behels twee gewigoptelsessies per week, op Woensdag- en Sondagmiddag. Elke sessie duur ongeveer twee ure. In die week voor ’n groot kompetisie verminder hulle die oefenlading om vir die kampioenskap voor te berei.

Sy en haar oefengroep het besluit om saam vir die Suid-Afrikaanse Kampioenskap in te skryf en hulself teen die land se beste atlete te meet.

Volgens haar is struikelblokke deel van enige sportreis, maar dit is hoe ’n mens dit hanteer wat die verskil maak.

“Ek dink almal het maar struikelblokke wat hulle moet oorkom. As jy gaan aanvaar die struikelblok is daar en niks daaraan doen nie, gaan jy nie ver kom nie.”

Sy skryf ’n groot deel van haar sukses toe aan haar afrigter, Neill Pieterse, wat haar en die oefengroep deurentyd ondersteun en voorberei.

“Neill het ’n baie groot rol gespeel. Hy glo altyd in hard work over talent. Sy oefenprogramme is altyd so uitgewerk om ons in topvorm te hê op die regte tyd.”

Haar man is haar grootste ondersteuner en help haar om kalm te bly, terwyl haar oefengroep, Nicole, GD, Antionette en Lizé, ook ’n belangrike rol in haar voorbereiding gespeel het.

Die saam oefen, grappies en gesamentlike pogings om die vereiste gewigsklas te haal, is volgens haar deel van die ervarings wat sy nie maklik sal vergeet nie.

Hoewel daar dae is wanneer sy nie lus is om te oefen nie, bly dissipline ’n belangrike faktor.

“Om op te daag al is jy nie lus vir oefen nie, is wanneer dit saak maak, want ons oefen vir die liefde en passie daarvan.”

Die Suid-Afrikaanse titel beteken baie vir haar, veral omdat sy haarself nou as die nommereen-atleet in haar gewigsklas in die land kan beskou.

“Om te dink daar is topatlete in SA en ek is nommereen in SA in my gewigsklas. Dis een van die beste gevoelens ooit.”

Die les wat sy uit die hele proses neem, is eenvoudig: Harde werk werp altyd vrugte af.

Haar volgende uitdaging wag by Fitchella in Kaapstad, een van Suid-Afrika se bekendste CrossFit-kompetisies.

Haar boodskap aan ander jong vroue en voornemende gewigoptellers is dat dit nooit te laat is om met die sport te begin nie.

“Almal kan dit doen. Dis nooit te laat om te begin en ’n doelwit vir jouself te stel nie,” het sy afgesluit.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Highvelder News in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button