“Gaumarjoba, Ermelo!” (Hallo/Goeie dag, Ermelo).
So groet Martie Kemp, ‘n oud-Ermeloër wat in 2011 haar man, Piet, na Georgië gevolg het nadat die egpaar besluit het om in die vreemde te gaan boer.
Piet het reeds in 2010 sy plaas buite Ermelo verkoop en hom in Georgië gevestig.
Die egpaar het oor die afgelope Kerstyd vakansie in Suid-Afrika kom hou en Martie het ‘n rukkie aangebly nadat Piet vertrek het. In dié tydjie het sy talle vriende en kennisse in Ermelo en Pretoria besoek en vertel van die lewe in hulle nuwe tuiste.
“Om destyds die besluit op ‘n relatiewe hoë ouderdom te neem, was nie maklik nie, maar dit was ‘n besluit waaroor ons nie spyt is nie,” het Martie vertel. Die egpaar het hulle in Sartichala gevestig, ‘n dorpie van sowat 24 000 inwoners en 20km vanaf die hoofstad, Tbilisi.
“Boerdery op die plase word hoofsaaklik gesamentlik deur groepe boere behartig en, anders as in Suid-Afrika, woon die meeste boere nie op die plase nie, maar in die dorpe. Die plase is om die dorpe geleë en boere ry daagliks daarheen uit,” het Marthie gesê.
Op die plaas waar Piet boer, word mielies en koring verbou en daar word ook met Limosine-beeste geboer.
“Die Georgiërs het ons van meet af verwelkom en ons baie gou laat tuis voel. Piet kon die plaaslike boere baie leer en op hulle beurt het hulle hom ook touwys gemaak, veral oor plaaslike toestande wat die boerdery beïnvloed,” het sy gesê.
“Soos met enigiets in die lewe is daar ook tekortkominge en probleempies, maar ons is nou reeds ingeburger en absoluut deel van die gemeenskap. Ons is besig om die taal met ‘n alfabet van 33 letters te bemeester. Daar is ook ‘n paar ander Suid-Afrikaanse boere by wie ons nou en dan kuier en Afrikaans kan praat. Ons bly ook in voeling met familie en vriende in Suid-Afrika deur middel van die internet,” het sy bygevoeg.
Martie sê die openbare vervoerstelsel is baie doeltreffend en in Tbilisi kan mens van die moltrein, die Metro, gebruik maak.
“Dit was lekker om weer ou vriende in Suid-Afrika te sien, maar dit is ook hartseer om die agteruitgaan van die kleiner dorpies te sien en die slaggate in die paaie,” het Martie gesê.
Sy keer die naweek weer terug na Georgië.
Vir meer nuus besoek gerus ons ander webblaaie.
Ridge Times, Standerton Advertiser & Highvelder
”Like” ons op Facebook en volg ons op Twitter.
Vir nuus na jou selfoon:
BBM – 2667A726
WhatsApp – 0748877590



