Reën val plek-plek
Oneweredige reënverspreiding het veroorsaak dat sommige saaiboere in Hoëveldstreek swak oeste sal kan lewer. In sommige gevalle sal geen oeste gelewer kan word nie.
Vir sommige boere in die Ermelo-omgewing het die min reën wat tot nou toe geval het, ernstige finansiële verliese meegebring.
Vir ander het daar net genoeg reën geval om die grootste deel van hulle oeste deur te trek.
Boere met wie die Hoëvelder gepraat het, was dit eens dat die afgelope seisoen se reënval baie sporadies en oneweredig verspreid was.
Baie boere het noodgewonge hul mielie-aanplantings vir kuilvoer afgesny.
Mnr. Danie du Plessis, bestuurder TLU-Oosstreek, het gesê dit is veral die kleiner saaiboerderye op die Oostelike Hoëveld wat deur die wisselvallige reënval benadeel word.
Vir ‘n algemene blik op die verwagte mielie-oesskattings op die Hoëveldstreek het die Hoëvelder ook gaan kers opsteek by mnr. Stoffel van der Merwe van Comdi Agricultural Markets.
Volgens ‘n reënvalkaart van die Suid-Afrikanse Weerdiens het ‘n groot deel van Mpumalanga vanaf Oktober tot Desember 75 tot 100 persent van hul normale reën gehad.
Dit was dus nie uiters droog nie, maar sekere gebiede kon moontlik minder as die normale reënval gekry het.
Dit is veral ‘n gebied in die sentraal en suidelike deel van Mpumalanga wat in dié tydperk nie goeie reënval gehad het nie.In Januarie het die grootste deel van Mpumalanga normale reën gehad, maar die meeste reën het reeds vroeg in Januarie geval.Mnr. Van der Merwe het gesê Mpumalanga het oor die algemeen in die belangrike bestuiwingsfase vanaf middel-Januarie tot einde Februarie min tot geen reën gehad nie.
Dit was ook ‘n jaar waar reën meestal in donderbuie voorgekom het en dus kol-kol uitgesak het.
Hiermee het mnr. Du Plessis saamgestem.
“Toestande verskil selfs op buurplase. Op een plaas lyk toestande belowend en skaars ‘n paar kilometer verder is ‘n ander se oeste daarmee heen,” het hy gesê.
Volgens mnr. Van der Merwe is die huidige gemiddelde oesskattings vir Mpumalanga vir wit mielies 4.75 ton per hektaar en vir geel mielies 4.5 ton per hektaar.
“Dit lyk dus op dié tydstip of daar 20 tot 25 persent minder as normaal in die Mpumalanga-gebied gestroop word gaan word.
“Vir sekere gebiede is dit normaal, maar vir ander is dit baie swak,” het hy gesê.In terme van die mark moet die volgende goed dopgehou word.
Met betrekking tot oesskattings is daar heelwat verwarring oor die omvang van die skade, dus kan die aanbod van mielies nog nie presies bepaal word nie.Daar word geskat dat 500 000 tot 1000 000 miljoen ton geel mielies ingevoer sal word.
“Indien internasionale pryse hoër of laer neig, sal ons mark volg, dus gaan die Amerikaanse seisoen ‘n groot rol speel,” het mnr. Van der Merwe bygevoeg.



