Help! EARS-honde staar dood in die gesig
"Ons het eenvoudig net nie die geld beskikbaar om na ál die diere om te sien nie," het Ronél hartseer gesê.

Ermelo Animal Rescue Society (EARS) rig ‘n dringende versoek aan die gemeenskap vir finansiële bystand of die skenking van hondekos.
Volgens EARS-voorsitter Ronél van der Merwe moes hulle die week ‘n moeilike besluit neem om van die honde in hulle sorg te laat uitsit.
“Ons het eenvoudig net nie die geld beskikbaar om
na ál die diere om te sien nie,” het Ronél hartseer gesê.
Daar is tans 58 honde en 32 katte in EARS se sorg en volgens Ronél gebruik hulle minstens 30kg hondekos ‘n dag.
Ronél het verduidelik dat EARS gestig is om na verlore diere om te sien, maar dat die gemeenskap dit misbruik en hulle bloot net gebruik as ‘n stortingsplek vir diere wat eenvoudig net in die pad is.
Ronél sê dat mense wat verhuis, gereeld hulle diere daar kom aflaai.
Volgens Ronél, word al hoe minder diere aangeneem en moes hulle met ‘n swaar hart noodgedwonge besluit om van die diere vankant te laat maak.
Mense wat kos wil skenk of ‘n geldelike bydrae wil maak, kan Ronél by 083 400 1079 of 083 976 7113 skakel.



