Dra pienk vir Ané
"Asseblief, liewe Jesus, maak my net gesond dat ek kan huis toe gaan,"
‘n Jong egpaar se geloof en toewyding is deur die laaste paar jaar tot die uiterste beproef.
Riaan en Christelle Terblanche se tweejarige seun, Johan, het breinonsteking (ensefalitis) opgedoen toe Christelle vier maande swanger was met hul tweede baba.
Ná drie maande in en uit die hospitaal en ‘n gesukkel om Johan met medikasie te stabiliseer, het hy sy eerste epileptiese aanval gekry en is kort daarna met outisme gediagnoseer.
‘n Reeks aanvalle verlede November was ‘n groot terugslag,
Christelle vertel dat hy tot sewe aanvalle deur die nag gekry het.
Alle vordering wat hy gemaak het, is ongedaan gemaak; selfs ‘n eenvoudige woordjie soos “bal” is bloot uit sy geheue gevee.
Tydens ‘n besoek aan familie in Bloemfontein, het Johan vir die eerste keer ‘n aanval in ‘n hospitaal gehad en dokters kon uiteindelik diagnoseer dat hy aan algehele breinepilepsie ly.
Ná ‘n besoek aan ‘n neuroloog in die Kaap, is Johan op ander medikasie geplaas en het hy in Januarie laas ‘n aanval gehad.
Johan kan nie praat nie en en het 24 uur sorg nodig.
Hy luister graag na Pavarotti en Born West se musiek en is versot op legkaart- en blokkiesbou.
Intussen is die gesin in Februarie 2012 geseën met ‘n babadogter, Ané.
Ané was ‘n lewenslustige dogtertjie met ‘n dik bos blonde hare.
Toe dit tyd word vir Ané om van die doeke gespeen te word, het Christelle en Riaan agterkom iets is nie pluis nie.
Sy het gesukkel met stoelgange en saans gehuil van pyn.
Die are op haar boudjies het begin uitstaan en hulle het haar na ‘n kinderarts in Middelburg geneem.
Hy het ‘n sonar gedoen, maar kon niks vreemds sien nie en het haar vir hardlywigheid behandel.
Ané wou net nie beter word nie en ‘n knop het intussen op haar stuitjie begin vorm.
Raadop, het hulle Johan se neuroloog tydens sy besoek in Januarie gevra om na die knop te kyk.
Hoewel dit nie sy spesialiteit is nie, kon hy wel sien dat dit nie hardlywigheid was nie en verdere ondersoek aanbeveel.
Terug in Ermelo, het ‘n plaaslike dokter haar ondersoek en ‘n abses vermoed. Om seker te maak, was ‘n operasie nodig.
Toe Ané die Vrydag vir haar narkose-ondersoek gaan, was die knop reeds twee keer groter en sy is dieselfde aand geopereer.
‘n Monster is weggestuur vir ontleding en hulle ontvang die uitslae ‘n week later: Ané het kiemselkanker.
Die volgende Maandag het hulle ‘n professor by die Kloof Hospitaal gaan sien en hy het MRI-toetse op Ané laat doen.
Die kanker was so gevorderd dat hy nie kon opereer nie. Ané moes eers chemo-behandeling kry.
Ané se feto-proteïentelling was 69 087 waar die normale telling minder as 10 is.
Daar was ‘n groot gewas in haar buik wat op haar ingewande gedruk en die knop op haar stuitjie veroorsaak het.
Die Vrydag het Ané se behandeling by die Little Company of Mary begin. Volgens die United Kingdom Cancer Care Plan moes Ané ses tot agt behandelings van drie dae elk kry. Ná die eerste behandeling was daar nog ‘n terugslag, Ané het kolletjies uitgeslaan, haar witbloedseltelling was laag en sy moes bloed-plaatjies kry.
Haar chemo-behandeling is toe vir drie weke uitgestel.
Op advies van die spelterapeut by die hospitaal, het Christelle-hulle besluit om Ané se hare af te sny voordat alles uitval.
Op haar derde verjaardag in Februarie het die “haarfeëtjies” Ané en haar ma se hare kom haal. Hulle sal dit “weer terugbring” as sy gesond is.
Christel en Riaan dra nou nog albei hul hare kort om Ané so normaal as moontlik te laat voel.
Ané is soos ‘n ware soldaat deur haar tweede chemo. Haar wil om te veg is só groot dat sy ná die sessie gesê het: “My kanker is weg.”
Ná haar derde behandeling is haar feto-proteïentelling af na 13.
Ané is verlede week geopereer en die gewas uit haar buik sowel as die punt van haar stuitjie is verwyder.
“Asseblief, liewe Jesus, maak my net gesond dat ek kan huis toe gaan,” was
Ané se woorde ná haar operasie, vertel Christine met trane in haar oë.
“Ané wou net huis toe kom en was baie besorg oor die welstand van haar twee honde, Fiefie en Victor, en die krimpvarkie.”
Die hoop om gou haar geliefde diere te sien was vir haar ‘n aanmoediging om kort ná die operasie te loop.
Dokters wag nog op die histologie van die stuitjie.
Daar is steeds kanker tussen Ané se werwels in die rugmurg.
Ane begin Maandag weer met chemobehandeling omdat ‘n operasie nie moontlik is nie.
Christelle en Riaan glo dat Ané gaan herstel en is dankbaar vir elke gebed. Hulle vertel van gebedsgroepe van so ver as die Vrystaat, KwaZulu-Natal en die Kaap wat bid vir Ané en ander kinders wat aan kanker ly.
Hulle hoop ook om in die nabye toekoms Johan by ‘n skool vir kinders vir outisme in te skryf om sy brein te stimuleer en hom ‘n kans op ‘n beter lewensgehalte te gee.
Ryan Bakselerowicz van Melrow Apteek het die Hoëvelder in kennis gestel van dié gesin met hul buitengewone omstandighede.
Hoewel hulle aan ‘n mediese fonds behoort, word nie al die medisyne gedek nie en ander uitgawes soos brandstof en verblyf laat ‘n groot leemte in die sak, het mnr. Bakselerowicz gesê.
Melrow Apteek sal dien as ‘n sentrale punt vir enige persoon wat ‘n skenking wil maak of dalk net ‘n briefie met ‘n boodskap van hoop wil laat.
Hulle doen ook ‘n beroep op die gemeenskap om Vrydag (môre) pienk te dra ter gedagtenis aan Ané en ander kinders wat aan kanker ly.
Deposito’s kan ook gemaak word in die volgende rekening: Ané Terblanche, Absa spaarrekening, Ermelo, rekeningnommer 92 823 77 365.













