Local newsNews

Cea se klippie kring ver uit

Cea se liefde vir musiek en lofprysing het in 2000 tot haar eerste CD, Ester, gelei waarvan sy haar eie liedjies geskryf het.

Die idee van ‘n geestelike lofgroep by die Hoërskool Ermelo het vier jaar gelede saam met ‘n paar leerders in die klaskamer van me. Cea du Plooy ontstaan.

Kalisto het die lig gesien en ‘n lofgroep van 20 wat ‘n kamp bygewoon het, het gou gegroei tot talle leerders wat elke Dinsdagaand bymekaarkom om getuienis te lewer en lofprysing te doen.

Die getuienisse word opgeneem en kan gesien word op die youtube-kanaal, Kalisto TV.

Só het Kalisto die algemene benaming geword vir alle geestelike aktiwiteite by die skool.

Cea en haar man, Pieter, het in 1986 na Ermelo verhuis waar hulle by die EHS begin skoolhou het.

Pieter het Aardrykskunde en Cea het Musiek as vak aangebied.

In 2000 het hulle ‘n ruskans van onderwys geneem en hulle twee jaar aan die sendelingsprojek Operation Sunrise Africa gewy.

Daarna het hulle weer na die onderwys teruggekeer en was agt jaar by Umzimvelo .

In 2010 is die paartjie terug na die EHS. Hoewel Cea as L.O.-onderwyser aangestel is, is sy ook aangestel as

Departementshoof Uitvoerende Kunste. Sy bied steeds kitaar- en klawerbordklassse aan.

Cea se liefde vir musiek en lofprysing het in 2000 tot haar eerste CD, Ester, gelei waarvan sy haar eie liedjies geskryf het.

Dié passie, die saadjie waaruit Kalisto gegroei het, word gedeel met haar man en twee seuns wat ook aan die EHS verbonde is.

Kalisto het onlangs hulle eerste DVD, Sonskynkind, vrygestel. Cea vertel dat een van die lede ‘n prentjie gesien het van ‘n klippie wat in water gegooi word en waarvan die kabbeling uitkring.

Sy het geweet hulle moet deur die land en die wêreld uitkring en dat ‘n DVD die regte medium is.

Cea het navrae gedoen oor die koste verbonde en was teleurgesteld toe hulle besef dat hulle dit nie sou kon bekostig nie.

‘n Paar maande later het hulle ‘n oproep ontvang van Jurie Kruger wat aangebied het om die DVD gratis op te neem.

Alles het vinnig gebeur en met slegs twee maande tyd voor die opname, het die lede begin om die musiek te skryf en die verwerkings te doen.

Daarna het hulle twee weke gehad om te oefen voor die opname wat voor ‘n gehoor geskiet is.

“Ons het geweet ons het net een kans en wonder bo wonder het alles ongelooflik mooi uitgekom,” sê Cea.

Cea is baie dankbaar en vertel dat sy besef het dat die Here Sy werk wat Hy begin het, onderhou.

“Kalisto is nie net ek nie. Die Here het ‘n span onderwysers en kinders opgerig en stuur steeds mense wat begaafd en talentvol is, om alles saam te dra.”

Cea is dankbaar teenoor die hoof en bestuur wat die platform om die Here vrylik te loof, daargestel het.
Sonskynkind is by die skoolkantoor beskikbaar teen R140.00.

 

Vir meer nuus besoek gerus ons ander webblaaie.

Ridge Times, Standerton Advertiser & Highvelder

”Like” ons op Facebook en volg ons op Twitter.

Vir nuus na jou selfoon:

BBM – 2667A726

WhatsApp – 0748877590

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Highvelder News in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button