Local newsNews

Michael en Boetie kry tweede kans

Michael is baie dankbaar vir alles en vertel dat alles so vinnig gebeur het dat hy "nog nie rêrig tot verhaal gekom het nie".

Met ’n skoongeskeerde gesig en breë glimlagte groet Michael en Boetie die nuwe dag ná ’n veilige nagrus in hul nuwe blyplek.

Lesers het in verlede week se uitgawe van die Hoëvelder nader kennis gemaak met Michael en Boetie, die twee haweloses wat ’n tentjie langs die Petdam deel en daagliks veg teen oorlewing op straat.

Die storie is deur verskeie lesers op facebook gedeel, maar dis die reaksie van Anton Franken wat daarop aangedring het dat “ons nie moet oordeel nie en eerder na ’n oplossing moet kyk” wat Michael en Boetie se lewens in ’n paar dae verander het.

Nog iemand wat ’n groot aandeel in dié verandering het, is Danie Coetzee.

Danie vertel dat hy en sy vrou Saterdag verby die dam gery het en vir Michael en Boetie sien hengel het.
“ Sy het die hele tyd in my ore geneul dat ons iets moet doen om te help,” vertel Danie, en dis toe dat hy besluit het om die buitekamer op sy perseel vir hulle in te rig.

Danie het by Anton vir raad aangeklop en hom vertel van die buitekamer, maar gesê dat hy ’n paar goed, onder andere ’n deur, kort.

Nog ’n inskrywing deur Anton op facebook het sommer gou ’n deur opgelewer en hulp van alle oorde het vinnig ingestroom.

Danie sê hy het ook net een bed gehad en moes inderhaas ’n bed uit kratte en ’n sponsmatras bou.

Danie, wat self ’n jong familie moet onderhou, het homself daartoe verbind om te sorg dat Michael en Boetie, afgesien van die dak oor hul kop, elke dag ’n bord warm kos kry.

“Ek wil nie hê hulle moet weer bedel as hulle nie genoeg geld vir kos verdien het nie. Hier sal elke dag vir hulle ’n bord kos wees,” sê Danie.

Danie weet wel dat alles nie oornag gaan gebeur nie, maar saam sal hy en Anton hul bes probeer om Michael en Boetie se menswees en eiewaarde te herstel, hulle te rehabiliteer en natuurlik meer standvastige werk te kry.

Michael is baie dankbaar vir alles en vertel dat alles so vinnig gebeur het dat hy “nog nie rêrig tot verhaal gekom het nie”.

“ Dit is lekker om ordentlik met warm water te kan was en die toilet te kan gebruik, die lewe is nou meer ’n werklikheid.” Sê Michael.
Michael waardeer die kans wat hulle gegun word en sê dat alles gebeur het omdat Tannie Spokie, wat hulle eerste by die dam gekry het, haar oor hulle ontferm het en aangedring het dat hul storie aan die gemeenskap vertel moet word.

IMG_1

IMG_2

 

Mense het reeds begin klere en kos skenk. Enige persoon wat belangstel om te help, kan Anton by 071 326 2819 skakel.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Highvelder News in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button