Mosambiek “Bucketlist” – Nuus uit die kamp (2)
In Vilanculos aangekom, het die drie nie baie tyd verwyl voordat hul nog 'n strepie deur hul kluitklaplysie getrek het nie.

Sondagoggend moes hulle weer oppak om na hul volgende punt, Vilanculos, te vertrek, met die weermag wat weer hul konvooi vergesel het.
Marius vertel dat hulle verby verskeie uitgebrande voertuie gery het. Natuurlik het hul nuuskierigheid die oorhand gekry en het hulle te ver van die konvooi af teruggeval,
Dit het daartoe gelei dat hulle nie verder kon ry nie en noodgedwonge in ‘n primitiewe kamp in Musungwe moes oornag.
Daar het hulle egte “run-a-ways” met kokosneut en grondboontjiebottersous geëet en dit was glo vreeslik lekker.
In Vilanculos aangekom, het die drie nie baie tyd verwyl voordat hul nog ‘n strepie deur hul kluitklaplysie getrek het nie: dié perderit op die wit sand het alle verwagtinge oortref.
Marius beskryf die streek waar hulle hul tans bevind as ‘n paradys met bootjies wat op die water dryf, omring deur palmbome, ver verwyder van die boomryke bosveld waar hulle hul die vorige paar dae bevind het.
In ‘n gesprek met die Hoëvelder Maandagmiddag, het Marius gesê dat hulle uitsien om die volgende dag om die Magarute-eiland te snorkel en hulle kon ook nie uitgepraat raak oor die doofstom sjef se kreefsop met tuisgemaakte Mosambiek-brood nie.
Tussendeur het hulle ook in ‘n ernstige sokkerwedstryd met die gemeenskap betrokke geraak en afgesien van die openingsdoel wat Herman op ‘n sierlike wyse aangeteken het, het Marco en sy span die vloer met hulle gevee.
Hou gerus die Hoëvelder se web-en facebookblad dop vir gereelde nuus uit die kamp. Die drie se vordering kan ook gevolg word op facebook by Mozambique Bucket-List-Leef jou droom.
Lees gerus ook Mosambiek “Bucketlist” – Nuus uit die kamp deel 1









