Local newsNews

Mosambiek “Bucketlist”- Nuus uit die kamp (4)

Die "Leef jou Droom"-span moes verlede week 'n hartseer dog rasionele besluit neem om verfilming van die natuurtonele vir hul dokumentêr te staak.

Dinge gaan nie altyd volgens plan nie en as moeder natuur eers besluit het om nie saam te werk nie, is daar niks wat mens daaraan kan doen nie.

Die “Leef jou Droom”-span moes verlede week ‘n hartseer dog rasionele besluit neem om verfilming van die natuurtonele vir hul dokumentêr te staak.

Volgens Marius Scholtz, meesterbrein agter die Mosambiek-ekspidisie, het die ongeluk hul begin ry toe die hoofkarakters, dolfyne, walvisse en skilpaaie, tydens hul seesafari nie opgedaag het vir die dag se verfilming nie.

Hoewel hulle die ondervinding terdeë geniet het, kon hulle nie die majestueuse diere van die see op film vasvang nie.

Hoop op ‘n suksesvolle dag langs die viswaters was tot nou toe ook teleurstellend.
Die res van die verfilming wat oor kampkos, gesprekke met die gemeenskap en 4×4-insette handel, is nog goed op dreef.

Marius beplan om einde Julie na Mosambiek terug te keer om die nodige natuurtonele te skiet

“Tydsberekening en moeder natuur se samewerking beteken alles. Hopelik sal alles dan in my guns wees.”

Maar getrou aan die filosofie van Herman Pretorius wat in beheer van die tegnologie is, het die manne besluit:

“Let’s wing it”, die terugslag verwerk en in Belene, noord van Maputo, vir die volgende vyf nagte kamp opgeslaan.

Marius vertel van hul wonderlike belewenis op Duin 6, ‘n sandduin van 100m hoog en 300m lank, met die see aan die een kant en bos aan die ander.

Ná ‘n adrenaliengevulde rit om die duin wat bo uitplat se top te bereik, het die manne hul tente opgeslaan om die nag daar deur te bring.

Die volgende dag het Herman verjaar en het hy die voorreg gehad om op Duin 6 wakker te word en ‘n nuwe jaar te begin.

Belene is die gebied waar leerskilpaaie jaarliks hul eiers lê en Marius hoop om dié natuurwonder eerstehands te beleef op sy terugkeer later vanjaar.

Hul ekspedisie staan einde se kant toe met net nog ‘n paar beplande aande in Ponta de Ouro waar hulle hoop om hul kluitklaplysie te voltooi deur saam met dolfyne te swem, dis nou te sê as die dolfyne saamspeel.

Verder wil dit voorkom of die drie bereik het wat hulle uit die ervaring wou kry.

Marius vertel laggend dat hy nooit sou kon dink dat drie mans saam so na aan die natuur so emosioneel en “diep” kan raak nie.

Hou gerus die Hoëvelder se web-en facebookblad dop vir nog nuus uit die kamp.
Die drie se vordering kan ook gevolg word op facebook by Mozambique Bucket-List-Leef jou droom.

 

Lees gerus ook Mosambiek “Bucketlist” – Nuus uit die kamp (1), (2) en (3) hier.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Highvelder News in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button