Local newsNews

Waar daar die wil is, is daar werk

"Dit mag oor die algemeen beskou word as 'n ongewone werk vir 'n jongman soos ek, veral 'n Afrikaanssprekende, maar ek beskou geen werk as benede my nie."

In die heersende moeilike ekonomiese klimaat waar werksgeleenthede vir jong mense al skaarser word, moet mens maar die trots in die sak steek en elke geleentheid met ope arms aangryp.

George Earle, ‘n 24-jarige jongman van Ermelo, is iemand wat só ‘n geleentheid nie laat verbygaan het nie. Om by die huis te sit en kla daar is nie werk nie, is nie iets wat dié beskeie man doen nie.

George is tans in diens van ‘n vulstasie in Ermelo waar hy as petroljoggie werk.
Hy beskou ook nie die werk wat hy doen as buitengewoon nie.

“Daar was ‘n pos oop hier wat beter betaal het as my vorige werk en net soos enige ander persoon het ek aansoek gedoen en is toe aangestel,” het George trots gesê

“Ek weet dit mag oor die algemeen beskou word as ‘n ongewone werk vir ‘n jongman soos ek, veral ‘n Afrikaanssprekende, maar ek beskou geen werk as benede my nie. Buitendien, ek moet werk sodat ek vir ons huisgesin te kan sorg.”

As enigste broodwinner van sy huishouding sorg George vir sy ouers, George sr en Cecilia, asook sy sussie, Michelle.
Die gesin bly in ‘n klein woonstel skaars ‘n klipgooi van sy werksplek af.

” My ouers kry wel ‘n klein pensioen, maar dit is nie naastenby genoeg om van te leef nie.

“Dit help mens niks om net te sit en kla oor jou omstandighede nie, terwyl daar wel poste beskikbaar is, maar ‘n mens kan nie bekostig om kieskeurig te wees nie. Daar is nie so iets soos ‘n slegte of minderwaardige werk nie. ‘n Werk is ‘n werk, maar ‘n mens moet egter bereid wees om onder te begin, hard te werk en jouself te bewys.”

Ná ‘n opleidingkursus van vier weke in Pretoria het George onder die wakende oog van sy voorman brandstof in kliënte se motors begin gooi en het hom gou bewys as ‘n hardwerkende en ywerige werknemer.

By sy werksplek hardloop George letterlik tussen die voertuie, altyd gretig om van diens te wees.
Banddruk, olie, water en remvloei-stofvlakke word nagegaan en ruite word skoongemaak.

Hy en sy kollegas kom baie goed oor die weg en kliënte met wie die Hoëvelder gepraat het, het net lof vir hom gehad.

“Ek kan sien die jongman wil werk en daar is absoluut niks fout met die werk wat hy doen nie.
“Hy kan sy kop omhoog hou want hy het ‘n werk. Hy stel werklik ‘n goeie voorbeeld vir ander jongmense,” het mnr. Stephan Greyling, ‘n kliënt, gesê.

George se bestuurder, mnr. Hashim Mahida, het gesê George is dieselfde kans gebied as enige ander werknemer en kry nie voorkeurbehandeling nie.

Hy werk skofte wat ook nagskofte insluit.

“Ja, George werk hard en hy is ‘n aanwins vir die onderneming. Ek is trots op hom, maar dan is ek trots op al my werknemers. Almal het dieselfde kans om deur getroue en harde werk bevorder te word,” het mnr. Mahida gesê.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Highvelder News in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button