80 en lank nog nie oud nie
Dié bekende bouer van Ermelo messel al 45 jaar lank en ophou is lank nog nie in sy bouplanne aangeteken nie.

Lawrence Gräbe het Maandag sy 80ste verjaardag gevier.
Dié bekende bouer van Ermelo messel al 45 jaar lank en ophou is lank nog nie in sy bouplanne aangeteken nie.
Op sy kerfstok, om net ‘n paar te noem, pronk die VSZ-gebou, EHS-gimnasium, dokterspreekkamers (dr. Meintjes en Vennote en dr. Swart en Vennote), EHS se muurbalbane en gedenksentrum, “Dolores se kerk” en die mure wat besoekers by Ermelo se ingange verwelkom.
Oom Lawrence is nog ‘n kranige gholfspeler en is elke Saterdag op die gholfbaan te sien.
Hy vertel spottend dat hoewel hy nou met ‘n 28-voorgee speel, daar darem ‘n tyd was wat sy voorgee 10 was.
Oom Lawrence en sy vrou, tannie Lena, het in April hul 56ste huweliksherdenking gevier.
Tannie Lena is bekend vir al die troues en blommerangskikkings wat sy oor die jare gedoen het. Sy het ook houtsneeklasse aangebied en het graag klavier gespeel.
Die egpaar deel hul passie vir musiek.
Oom Lawrence was skaars ses toe hy drie vingers in ‘n ongeluk aan ‘n koringplanter afgestaan het, maar ná ‘n vertoning van Jurie Ferrreira in Harrismith se stadsaal, waar hy musiek gemaak het met ‘n saag, het oom
Lawrence besef dat dit ‘n instrument is wat hy sal kan speel.
In 1948 het hy vioolonderrig by Victor Pohl in Bloemfontein ontvang en het sy eerste viool, ‘n Stradivarius, vir 300 pond gekoop.
Vir jare het die egpaar saam musiek gemaak en die viool en saag se klanke weerklink vandag nog in die voorkamer.




