Oudredaksielid van Hoëvelder sterf
'n Gedenkdiens vir Mabel vind Sondag, 17 Julie om 11:15 by die NG Moedergemeente, Ermelo plaas.

‘n Bekende en geliefde oud-Ermeloër, me. Mabel Wiese (84), is Saterdagoggend in Rustenburg oorlede.
Mabel was van 1975 tot 1997 met haar aftrede proefleser by die Hoëvelder.
Sy was ‘n statige vrou en daar is dikwels na haar verwys as die bes-geklede vrou in Ermelo.
Mabel het twee jaar gelede weens haar gesondheid na Rustenburg verhuis.
Sy laat haar twee kinders, sewe kleinkinders en ses agterkleinkinders agter.
Haar lewe word so deur ‘n goeie vriendin opgesom:
“Mabel sal altyd onthou word vir waardigheid en vriendelikheid en haar familie was altyd haar grootste liefde. Met deernis het sy ook ‘n groot bydrae gelewer tot haar groot vriendekring.
“Sy was baie bekend in Ermelo en was ‘n wel-berese en wel-belese vrou.
“Mabel het ‘n diep gevoel gehad vir die estetiese dinge van die lewe soos gesien kon word aan haar goeie smaak vir musiek, teater, kuns en die natuur.
“Sy het altyd haar familie en vriende met liefde en empatie bygestaan.
“Mabel het ‘n skerp sin vir humor gehad en het altyd ‘n vrolikheid tot alle geleenthede bygedra.
“Mabel was nie ‘n passiewe toeskouer van die lewe nie; sy het voluit ‘n sinvolle lewe gelei.
“Dit was ‘n voorreg om haar te geken het.”
‘n Gedenkdiens vir Mabel vind Sondag, 17 Julie om 11:15 by die NG Moedergemeente, Ermelo plaas.



