Local newsNews

Bekende Ermeloër sterf

Haar sprankelende persoonlikheid het haar baie geliefd gemaak onder almal met wie sy in aanraking gekom het.

‘n Bekende oud-Ermeloër en eertydse staatmaker van die Ermelo Tuinbouklub, me. Barbie Roets, is op die ouderdom van 88 jaar en 11 maande oorlede.

Barbie het ná haar skoolopleiding as sekretaresse bydie prokureursfirma Jackson en Joubert gewerk en was ook ná haar huwelik met ‘n boer van Morgenzon, mnr. Danie Cronjé, as sekretaresse by Laerskool Morgenzon werksaam.

Vier kinders, Hybre, Wessel, Marna en Adri is uit die huwelik gebore.

Danie het haar egter op die jong ouderdom van 38 jaar ontval, maar Barbie en haar kinders het op die familieplaas Roodekrans buite Morgenzon aangebly.

Sewe jaar later het sy in die huwelik getree met mnr. Boet Roets, ‘n bekende prokureur van Ermelo.

Haar sprankelende persoonlikheid het haar baie geliefd gemaak onder almal met wie sy in aanraking gekom het en dit is veral haar vriendinne van die Ermelo Tuinbouklub wat haar as ‘n spesiale mens sal onthou.

Me. Elmarie Celliers het namens die Tuinbouklub-lede gesê Barbie was oor baie jare ‘n kleurvolle, spesiale tuinbouvriendin en die lede sal menige heerlike kuiers saam met haar onthou.

“‘n Bustoer na ander dorpe of skoue was altyd ‘n fees met Barbie op die bus. Ons sal altyd haar humorsin onthou en ook haar vermoë om die vroue om haar nader te trek. Dis asof ons haar nou nog kan hoor lag.

“Die Tuinbouklub bring graag hulde aan ‘n ware anker van die gemeenskap. Sy en Boet was werklik kosbare inwoners van Ermelo.”

Barbie is Saterdag ter ruste gelê langs haar jongste dogter, Adri Uys, wat in Maart 2000 oorlede is.

Die geleentheid is onder andere ook bygewoon deur kleinkinders wat van oral in die wêreld gereis het om Ouma Barbie se nagedagtenis te eer.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Highvelder News in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button