Goeie daad herenig hond en eienaar
Poh se eienaar is met die hereniging die blye nuus meegedeel dat Poh dragtig is.
‘n Ouerige, goedversorgde teefhond wat onlangs deur ‘n goeie samaritaan, mnr. Gideon Coetzer, in die omgewing van die Petdam gevind is, is danksy sy goeie daad met “rente” met haar eienaar herenig.
Mnr. Coetzer het die hond, Poh, na die Ermelo Dierekliniek geneem toe dit vir hom gelyk het of die dier met moeite beweeg.
Hy het ook die Hoëvelder in kennis gestel en ‘n foto is op die koerant se sosiale blad geplaas.
Poh se eienaar, me. Marie-Louise Roets, het binne ‘n uur haar hond geëien en met die hereniging is sy die blye nuus meegedeel dat Poh dragtig is.
“Ek wil net dankie sê vir oom Gideon wat ons Poh gekry en veearts toe geneem het en ook vir die vriendelike personeel by die praktyk.
Poh is nou veilig by die huis en ons het uitgevind sy verwag! Ek gaan ouma word!” het me. Roets op die Facebook-blad geskryf.



