Errie-redakteur droom groot
In haar vyf hoërskooljare het sy as redakteur gedien, vier agtereenvolgende jare onder die nasionale top 10 vir beste skoolkoerant geëindig, twee keer as Beeld-wenner (2012, 2013).

Hoërskool Ermelo se nuusredakteur, Elizabeth Bosch (gr.12), het dié jaar haar redakteursuitgawe van die Errie Nuus met die tema “Wenners” die lig laat sien.
Haar koerantsuksesse het reeds as gr.8-leerling aan Hoërskool Piet Retief begin toe sy, met die hulp van haar tweelingbroer, die skool se koerant, “Die Flits”, begin het.
Daardie jaar (2012) het hulle met hul eerste koerant weggestap as Beeldtrofee-wenners en die volgende jaar in die top 10 geëindig.
In haar vyf hoërskooljare het sy as redakteur gedien, vier agtereenvolgende jare onder die nasionale top 10 vir beste skoolkoerant geëindig, twee keer as Beeld-wenner (2012, 2013).
In gr.10 het Elizabeth ‘n Errie geword en dadelik by die skool se redaksie ingeval.
Vanjaar het sy haar “eenmankoerant” vir die Beeld-kompetisie ingeskryf.
Die reëls vir die kompetisie is baie streng, onder andere dat politieke beriggewing verbode is.
Maar Elizabeth het in dié ver-kiesingsjaar die reëls verbreek met ‘n omstrede ondersoekende berig oor die vraag of die stemouderdom verlaag behoort te word tot 16.
Vanjaar se Beeldtrofee-uitslae word op 10 Oktober bekend gemaak.
Elizabeth sê die rede vir “Wenners” as tema vir vanjaar se uitgawe “mag miskien soos ‘n cliché klink, maar EHS het my ontgin en in elke opsig laat wen”.
Die uitgawe sal volgende maand op die Erries se facebook-en webblad te sien wees.
Sy spog ook met ‘n hele rits prestasies, onder meer wenner van die internasionale opstelkompetisie oor die Slag van Onverwacht, kultuur-persoonlikheid van die jaar (gr. 9), SA Skaak, olimpiades, top 10 (akademie), top 10 Mpumalanga (kuns) en vakpryswenner van English Home Language, Afrikaans EAT en Visuele Kuns (gr.11).
Maar dis kuns wat die talentvolle Elizabeth se hart vinniger laat klop en sy put inspirasie uit die werk van kunstenaars soos Kathe Kollwitz, Egon Schiele, Amadeo Modigliani en Frieda Kahlo.
“My kuns handel oor lyding en verlies. Alles wat ek doen, word opgedra aan my pa wat in 2014 oorlede is. I don’t think there is anyone else at all who remembers my noble father with such sadness,” het Elizabeth gesê.
Elizabeth se leuse is om alles te waardeer terwyl jy dit nog het en nooit enigiets as vanselfsprekend te aanvaar nie. Sy gaan volgende jaar Visuele Kuns by Kovies studeer.
Elizabeth weet nou wel nie wat die toekoms vir haar inhou nie, maar vir nou is haar doel om kurator van ‘n kunsmuseum te wees, omring met werke van die meesters.