Joey wil ‘n verskil in lewens maak
Joey is reeds 15 jaar 'n insulien-afhanklike diabeet en deel graag haar storie om ander bewus te maak van Charcot voete
Min het Joey Bruwer (44) geweet dat ‘n “knop” op haar voet die oorsaak sou wees dat albei haar bene vier jaar later 20cm bo haar voete geamputeer moes word.
Joey is reeds 15 jaar ‘n insulien-afhanklike diabeet en deel graag haar storie om ander bewus te maak van Charcot voete, die toestand wat veral diabete raak en wat haar sonder bene gelaat het.
Toe sy die eerste keer die “knop” op haar linkervoet gemerk het, het Joey haar huisdokter geraadpleeg wat haar dadelik na ‘n ortopeed (die eerste van vele) verwys het.
Hy het vermoed dat sy haar voet erg geswik of byna gebreek het, ” as ‘n vrou met sober gewoontes glo ek, dat ek sou weet as ek geval het en my voet amper gebreek het” vertel Joey skertsend.
Die ortopeed het toe besluit om haar voet te opereer, gedurende die operasie het hy penne in haar voet (wat reeds begin skeef trek het) gesit.
Toe die gips agt weke na die operasie verwyder is, was haar voet steeds skeef en het hy haar ingelig dat sy aan osteoperose ly en daar nie veel is wat hy vir haar kon doen nie.
Intussen het Joey maar vrede gemaak met haar “skewe” voet, maar toe die wond onder haar voet septies geraak het, het haar huisdokter haar dadelik weer na die ortopeed verwys.
Haar liggaam het die penne wat tydens die operasie ingesit is, verwerp en moes verwyder word. Joey vertel dat dit vir haar voorgekom het dat die ortopeed moed opgegee het en haar dus na ‘n ander spesialis verwys het. Dié dokter se diagnose was soortgelyk aan die eerste en weer is daar penne in haar voet gesit en weer het haar liggaam dit verwerp.
Daarna was dit die een operasie na die ander, en dit was gedurende die tyd dat Joey gemerk het dat dieselfde simptome ook op haar regtervoet begin wys het.
En dit was toe dat die antwoord op haar siekte uit die mees onwaarskyn-likste en onverwagste oord gekom het.
Haar dogter, Danette, toe in gr.11 was besig met ‘n taak vir biologie wat oor diabetis gehandel het.
Een middag toe sy navorsing op die internet gedoen het, het sy afgekom op ‘n diagram wat soortgelyk aan haar ma se voete is, sy’t die prentjie vir Joey gewys wat dadelik haar eie voete herken het. Na nog ‘n paar minute se soek het Danette die toestant as Charcot Foot geidentifiseer.
Gewapen met die nuwe inligting het hulle hul ortopeed geraadpleeg, en sy is dadelik deur hom na ‘n ander dokter wat in Charcot spesialiseer verwys, dit alles omtrent drie jaar nadat die eerste “knop” verskyn het.
Die dokter het nie doekies omgedraai nie en vir Joey ingelig dat hy alles in sy vermoë gaan doen om haar voete te red (‘n taak wat makliker sou wees as sy van die begin af reg gediagnoseer was), maar dat sy haarself moet voorberei op die moontlikheid van amputasie.
Ses maande lank met operasie na operasie het hy gespook om haar voete gesond te kry tot in Augustus verlede jaar toe die noodlot tref.
Joey se wonde wou net nie gesond word nie en sepsis het gevorm wat haar niere en longe geinfiltreer het.
Op 24 September 2015 is haar linkerbeen,tydens ‘n noodoperasie, 20cm bo haar enkel geamputeer.
Op dié dag presies twee maande later moes die dokter haar regterbeen ook verwyder.
Joey vertel dat dit op daardie stadium vir haar baie traumaties was al het die dokter haar ses maande tevore gewaarsku van die moontlikheid dat sy haar bene gaan verloor, was sy nie voorbereid op wat gevolg het nie.
” Ek wil graag ander help deur mense bewus te maak van Charcot Foot en diabete in te lig dat as iets fout gaan met hul voete , hul moet aandring dat hul dokters die moontlikheid van Charcot moet ondersoek. Al maak dit net ‘n verskil in een persoon se lewe sal ek tevrede wees.” Sê sy.
Joey was sedert die amputasie rolstoel gebonde en na maande se voorbereiding het sy twee weke gelede haar tydelike kunsbene ontvang en Sondag vanuit die rehabilitasiesentrum terug gekeer. Joey het gou besef dat selfbejammering nie ‘n opsie is nie, dat dit dié wat vir haar jammer voel later sal wegdryf.
Sy maak ‘n punt daarvan om elke oggend vir die Here dankie te sê vir ten minste een ding en sy vertel dat sy nou alles met nuwe oë van waardering beskou. Joey loop steeds met die hulp van ‘n loopraam tot haar spiere wat verswak het gedurende haar lang tyd in die rolstoel weer versterk en sy self kan balanseer.
Sy sien uit na die dag wat sy self weer in haar tuin kan rondloop en hoop dat sy met die hulp van die Here se genade mense kan inspireer en bystaan.
Joey wil graag help. Enige persoon wat met haar wil gesels en meer uit te vind oor Charcot Foot of selfs net ‘n oor soek om te luister is welkom om haar te skakel by 076 511 1985.