Oud-Ermeloër is Jong Boer-finalis
"My arbeidsmag is my belangrikste bate. Met dié bestuurspan sien ek kans vir enige uitdaging in die boerdery."
Johann Nel, ‘n oud-Ermeloër en kleinseun van Johann en Stella Nel wat jarelange inwoners op Ermelo was, is onlangs as een van vyf finaliste gekies as Agri Wes-Kaap Landbou Jong Boer van die Jaar.
Die wenner word 24 Mei in die Paarl aangekondig.
Johann het sy skoolloopbaan in 1993 by JJ van der Merwe begin en het sy liefde vir boerdery as jong skoolseun ontwikkel. Hy het van kleinsaf die plaaslewe saam met sy oupa Johann en pa Christoff geniet en groot belangstelling getoon.
Sy belangstelling in suiwelboerdery is verder geprikkel deur die familie-onderneming Hannel Melkery op Ermelo.
Hier is die rouproduk aangekoop en in die fabriek verwerk. Verskeie suiwelprodukte soos jogurt, maas, maaskaas, vla asook vrugtesappe en ander produkte is hier geproduseer.
In 2008 het Johann se pa ‘n plaas in die Overberg gekoop en daar het Johann as volwaardige boer sy passie vir boerdery begin uitleef.
Hy boer reeds agt jaar op Hoëkraal Landgoed naby Buffeljagsrivier met melk, graan, skaap en boerbokke. Hy is steeds besig met uitbreidings aan die melkery en vandat hy die plaas se bestuur in 2011 oorgeneem het, is die skaapvertakking ook uitgebrei.
Die boerbokke word aangewend om weiding in die klowe doeltreffend te benut.
“Ek glo vandag se jong boere is innoverend, passievol, doelgerig en probeer deurentyd verbeter en vernuwe op die ongelooflike fondament en voorbeeld van boerderypraktyke wat vorige geslagte en leermeesters gelê het.
Die jong boer speel ‘n baie groot en waardevolle rol in ons land se voedselketting om genoegsame, goeie voedsel te produseer ten spyte van beperkte hulpbronne en ‘n veranderende omgewing.
“Ek sien kans vir elke dag in die boerdery omdat ek ‘n goeie en bekwame bestuurspan het.
“My arbeidsmag is my belangrikste bate en sommige werkers werk al hulle hele lewe op die plaas. Met dié bestuurspan sien ek kans vir enige uitdaging in die boerdery.”
Johann sê dit is vir hom ‘n voorreg om elke dag so nou saam en in afhanklikheid met God se skepping te kan werk.
“Boerdery is vir my die mees gesonde, dienende en nederige werk om te verrig.
Buiten die genot en bevrediging wat ek uit die boerdery haal, is dit wonderlik om te kan weet ek verskaf werk aan 40 broodwinners en help dat hulle ‘n goeie huis bewoon en kos op die tafel vir hulle familielede kan voorsit.”
For free daily local news in the south, visit our sister newspapers Ridge Times and Standerton Advertiser.
For more news and interesting articles, like us on Facebook, follow us on Twitter or Instagram



