
Twee vroue van Ermelo, me. Liezl Oosthuizen en me. Lunette Symington, het die nood van ’n veilige hawe vir die vergete en verlore diere raakgesien en ingespring om ’n plan te beraam.
Hulle is groot diereliefhebbers en kon nie toekyk hoe Ermelo se straatdiere vergeet word nie.
Me. Oosthuizen is oorspronklik van Ellisras, maar sien haarself as ‘n gesoute Ermeloër.
Sy het twee honde en ‘n kat, maar haar liefde vir diere stop nie by die gewone huisdiere nie want sy is ook die trotse eienaar van 10 tarantulas.
Me. Symington is op Ermelo gebore en is tans werksaam by Ermelo Toyota. Haar nood om straatdiere te help het begin toe ‘n familielid van haar ‘n boks vol babahonde by die stortingsterrein opgetel het.
“Hope Animal Rescue” is as ’n nie-winsgewende organisasie geregistreer na maande se beplanning en die gewag op goedkeuring.
“Dit was glad nie ‘n maklike proses nie en die goedkeuring van die organisasie het nie oornag plaasgevind nie. Daar is baie faktore wat hulle ag neem voordat hulle ‘n organisasie goedkeur,” het me. Oosthuizen vertel.
Lees ook: Miané van der Merwe goed op die herstelpad
Dit was vir die vroue ’n gepaste naam omdat hulle die straatdiere ’n tweede kans en bietjie hoop wil gee met ’n tuiste waar hulle kos, water, ’n skuiling teen die elemente en hope liefde kan kry.
Die organisasie het ook vyf lede wat op die raad dien wat ’n prokureur en ’n boekhouer insluit.
Een van die groep se grootste uitdagings tans is om ’n veilige hawe vir die diere op te rig.
“Ons sukkel om ’n stuk grond te kry om te gebruik en daarsonder bly die instansie net ’n naam.”
Hulle het ‘n beroep gedoen op die gemeenskap indien enige iemand weet van beskikbare grond wat hulle kan gebruik vir die oprig van ‘n hawe vir die diere, om hulle te kontak.
Vogens haar maak hulle op die Dierebeskermingsvereniging (DBV) op Bethal staat om die diere van Ermelo in te neem en te versorg.
Sy het ook gesê dat hulle reeds oproepe van vrywilligers op Ermelo ontvang het wat bereid is om te help met die versorging van diere en sommiges het reeds kos en komberse geskenk.
Kleiner items soos komberse, hondetruie, beddens, hondehokke en speelgoed word ook benodig om die behuising vir die diere meer gerieflik te maak.
’n Groot aanvraag na ‘pleegouers’, soos me. Oosthuizen na hulle verwys, bestaan wat bereid is om diere, wat nie dadelik na die DBV op Bethal kan gaan nie, vir ’n paar aande ’n slaapplek te gee en te versorg tot hulle by die DBV kan aansluit.
Hulle het nog groot planne en die uiteindelike doel is om by die perseel ook ’n koffiehuis oop te maak waar die mense ’n dag kan deurbring en liefde en aandag aan die vergete diere gee.
Ook deel van hulle beplanning is om ’n veearts te kry wat permanent betrokke is by die instansie.
“Ons het nog groot planne met Hope Animal Rescue.
“Ons wil dit ’n plek maak waarop ons gemeenskap trots kan wees en wil kom besoek,”
Hulle doen ook ‘n beroep op die gemeenskap om betrokke te raak om saam ‘n verskil te maak vir die verlore diere van Ermelo.
Hulle het tans fondsinsamelingsboksies wat hulle by die besighede van Ermelo wil plaas om dit vir die gemeenskap makliker te maak om donansies te skenk. Indien daar besighede is wat sal belangstel, kan hulle me. Symington kontak vir meer inligting.
Indien enige iemand wil betrokke raak by die organisaie of enige donasies wil maak, kan me. Oosthuizen by 073 886 9059 of me. Symington by 082 305 5108 geskakel word.
Vir meer nuus besoek gerus ons ander webblaaie.
Ridge Times, Standerton Advertiser & Highvelder
”Like” ons op Facebook en volg ons op Twitter.



