Local newsNews

Boere beskryf brandstofprysverhoging as ontydig

Brandstof maak ’n groot deel uit van die boere se produksiekoste en in sommige gevalle kan die koste van brandstof reeds hoër wees as hulle saadkostes.

Die onlangse styging in die brandstofprys is ‘n harde slag vir die somergraanboere wat begin regmaak vir die nuwe plantseisoen.

Landbou het ‘n baie belangrike rol om te speel om voedselpryse te stabiliseer en bekostigbaar te hou.

“Voedselprysstygings gedurende 2008 en 2010 het bygedra tot ‘n massiewe toename in hongersnood vir veral die armer deel van bevolking.

“Styging in voedselpryse het die grootste invloed op die armstes van die armstes want hulle kan nie die basiese voedselsoorte koop in die hoeveelheid waaraan hulle gewoond was nie,” het mnr. Danie du Plessis gesê.

Volgens een van die boere wat in Ermelo-omgewing boer, is die brandstofverhoging ontydig omdat dit plantseisoen is en hulle in hierdie volgende paar maande die meeste diesel gebruik.

Om die prysverhoging te probeer versag, kan die boere beweeg na minimumbewerking toe, maar dit kan nie oornag gebeur nie omdat die regte toerusting aangekoop moet word en nie almal kan die skuif oornag maak nie.

Hy is van mening dat die prysverhoging boere kan dwing om minder te plant, wat nie net ‘n negatiewe invloed sal hê op die land se voedselsekuriteit nie, maar ook boere se ondernemings kan laat stagneer of selfs agteruit gaan.

“Dit kan dan ook ‘n negatiewe invloed hê op werkloosheid wat weer sy eie probleme inhou.” het die boer gesê.

Brandstof maak ‘n groot deel uit van die boere se produksiekoste en in sommige gevalle kan die koste van brandstof reeds hoër as hulle saadkoste wees.

Volgens mnr. Lion du Plessis, ‘n plaaslike boer in die omgewing, is die mieliepryse tans goed vir Julie volgende jaar, maar nie almal sien kans om nou al kontrakte te teken as hul nog nie geplant het nie.

“Ons hoop die pryse sal styg, maar dit is onwaarskynlik omdat daar ‘n surplus mielies gaan wees teen strooptyd omrede uitvoere baie stadig is,” het mnr. Du Plessis gesê.

Volgens die Automobielvereniging van Suid-Afrika (AA) se Openbare Betrekkinge Bestuurder, mnr. Layton Beard, is die prys van brandstof in die binneland duurder as die kusprys omdat die brandstof in Durban of Kaapstad verfyn en dan deur tenkwaens na die binneland vervoer word.

“Hierdie proses se koste word bygevoeg by die koste wat deur brandstofgebruikers in die binneland betaal word.” het mnr. Beard gesê.

Volgens hom, is die twee hoofdryfvere van die brandstofprys die wisselkoers van die rand/Amerikaanse dollar en internasionale petroleumpryse.

Die rand/Amerikaanse dollar is veranderlik op ‘n dag-tot-dag-koers, so ook die prys van internasionale petroleum.

“Daarom is dit byna onmoontlik om met 100 persent sekerheid te sê wat in die volgende 26 dae voor die einde van Oktober en die aankondiging van die nuwe aangepaste prys sal gebeur.” het mnr. Beard ook gesê.

Die AA doen egter twee maandelikse voorspellings, die eerste word in die middel van die maand gedoen word en die tweede ‘n dag voor die amptelike aankondiging, om so ‘n idee te kry van wat met die brandstofprys kan gebeur.

Dat dié brandstofprysverhoging die grootste nog in Suid-Afrika se geskiedenis is, is ongetwyfeld.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button