Inwoners van Potgieterstraat in Ermelo het die Hoëvelder onlangs oor die gereelde afvuur van wapens in hulle omgewing genader.
Dit het gekom nadat daar op Sondagaand, 24 Maart ‘n Hadeda op een van die inwoners se kuiergaste se voertuig doodgeskiet is.
Hulle het self baie kennis oor wapens en is van mening dat die voël met ‘n .22-geweer geskiet is, maar het ook bygevoeg dat daar ook met windgewere en gasgewere in die omgewing geskiet word.
Die inwoners het vertel dat dit geen ongewone gesig vir hulle is, om voëls wat doodgeskiet is in hulle erf op te tel nie.
“Ek vrees vir die dag wat die onverantwoordelike persoon een van my troeteldiere raak skiet of selfs nog erger dat ‘n kind in die omgewing per ongeluk raak geskiet word,” het die inwoner wat anoniem wil bly, gesê.
“Ek kan nie glo dat mense so onverantwoordelik is om in woonbuurte te skiet nie en om toe te laat dat hulle kinders met die gewere in die woonbuurte te skiet nie.”
Volgens kapt Carla Prinsloo, woordvoerder van Ermelo polisie verklaar Artikel 120 (7) van die Wet of die Beheer van Vuurwapens (Wet no 60 van 2000) dat dit ‘n misdryf is om ‘n vuurwapen, antieke vuurwapen of ‘n windgeweer in ‘n beboude gebied of enige openbare plek af te vuur.
“Indien ‘n persoon ingevolge hierdie wet en betrokke artikel skuldig bevind word kan hul tot vyf jaar gevangenistraf gevonnis word,” het kapt Prinsloo afgesluit.



