AfriForum se buurtwagte in Mpumalanga het op 6 Junie aan die burgerregteorganisasie se nasionale versetpatrollie deelgeneem.
Dié massapatrollie vorm deel van die amptelike aktivering van AfriForum se buurtwagte wat hul bedrywighede weer tydens vlak 3 van die inperking mag hervat.
Die patrollie is in samewerking met verskeie sekuriteitsmaatskappye en gemeenskapslede gehou, wat gehelp het om sigbaarheid in hul onderskeie dorpe te verhoog.
Altesaam 208 gemeenskapslede het in 113 voertuie aan die patrollie deelgeneem.
Die lede het 4 980 km in 630 man-ure afgelê en by verskeie voorvalle bystand gebied.
Al die deelnemers het streng voldoen aan die vereiste regulasies en binne die raamwerk van die wet opgetree.
Volgens AfriForum, kan gemeenskapslede en buurtwagte met patrollies voortgaan aangesien die regulasies wat dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, Minister van Samewerkende Regering en
Tradisionele Sake, op 28 Mei uitgevaardig het, dit duidelik stel dat mense hul woonplekke mag verlaat om spesifieke dienste te lewer, met uitsondering van sekere aktiwiteite soos uiteengesit in dié regulasies.



